Amerikaanse aandelemark daal meeste sedert terreuraanvalle in 2001

Image

New Yorkse aandelebeurs

Die nuus van Lehman Brothers se bankrotskap, asook probleme by die versekeringsreus AIG, het die Amerikaanse aandelebeurse gister swaar getref. Die daling was die grootste sedert die terreuraanvalle op 11 September 2001.

Die daling in Amerikaanse huispryse is die eerste sedert die Groot Depressie van die dertigerjare in die vorige eeu. Die sukkelende finansiële instellings in die VSA, tesame met dalings in grondstofpryse, het die vrees laat onstaan dat die Amerikaanse ekonomie nog verder mag verlangsaam.

Aandele het meer as $600 miljard aan waarde ingeboet. Finansiële aandele in die bank- en versekeringsektor het die skerpste gedaal sedert 1989, volgens Bloomberg.

Die globale versekeringsmaatskappy American International Group (AIG) het met 61 persent gedaal terwyl die bank Washington Mutual se aandele met 27 persent gesak het.

Ook die prys van ruolie het na benede beweeg aangesien 'n Amerikaanse resessie die vraag na petroleumprodukte sal verlaag. Generale Electric, een van die grootste Amerikaanse maatskappye wat ook in die Dow Jones-indeks van dertig maatskappye verteenwoordig is, het met 8 persent teruggesak.

Handelaars was dit eens dat "vrees in beheer is". Die S&P 500-indeks het 4,7 persent laer gesluit op 1 192,70 en die Dow Jones het met 504,48 punte gedaal tot 10 917,51 oftewel 4,4 persent.

Beurse in Europa en Asië het die koue vanuit die VSA gevoel en het almal skerp gedaal. In Brasilië het die Bovespa met 7,6 persent afgeneem, insgelyks die skerpste daling sedert 11 September 2001. Die dollar het die meeste op een dag in tien jaar teen die Japannnese jen gedaal en Amerikaanse skatkiswissels in die tweejaarperiode het skerp in waarde gestyg soos wat beleggers die veiligheid van regeringsgewaarborgde rentedraende instrumente opsoek.

AIG se aandeelprys het van $7,38 tot $4,76 gedaal, wat die laagste sedert Junie 1988 is. Die versekeringsmaatskappy het 'n plan bekendgestel waardeur dit afwaartse kredietgraderings wil afweer deur $20 miljard se kapitaal in te win, asook 'n verdere $20 miljard se bates in kontant wil omskakel. AIG is, soos Lehman, die slagoffer van die ineenstorting van die Amerikaanse huisverbandleningsmark.

Volgens die vorige voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserwe, Alan Greenspan, is die huidige finansiële krisis "'n gebeurtenis wat een keer in 'n eeu plaasvind" en sal verdere finansiële instellings bankrot speel.

In 'n onderhoud met ABC-televisie in die VSA, het Greenspan gesê: "Dit ly geen twyfel dat die huidige situasie enigiets ootref wat ek nog gesien het en dat dit steeds nie opgelos is nie."

Die bank Washington Mutual mag die Amerikaanse belastingbetaler $24 miljard kos in die geval van 'n reddingspoging deur die regering. Ná die mark se sluiting het die graderingsmaatskappy Standard & Poor's die bank se uitstaande effekte tot sogenaamde "gemorspapier" (junk) verlaag.

Die probleme in die VSA gaan waarskynlik oorspoel na Suid-Afrika waar huispryse insgelyks onder druk is. Suid-Afrikaanse banke het ook aggressief aan die opkomende swart middelklas geld geleen wat in die geval van 'n wêreldwye kredietkrisis waarskynlik nie in staat gaan wees om hul verpligtinge na te kom nie.

Ook die hele SEB-nywerheid waaruit banke groot voordeel getrek het, berus op stygende aandelepryse. Indien die wêreldwye beermark in aandele voortduur, gaan daar geen groei in Suid-Afrikaanse aandelewaardes plaasvind nie en gaan begunstigdes van swartbemagtigingstransaksies uiteindelik met skuld sit wat hulle nie kan delg nie omdat die onderliggende bates waarteen hulle geleen het skerp gedaal het.

переходник для пневмоинструментаалександр лобановский супермаркет класс

Maak 'n opvolg-bydrae