Jan van Riebeeck het in 1639 by die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) aangesluit en in ’n verskeidenheid poste gedien, onder andere as assistent-sjirurg in Batavië. Agterna het hy Japan aangedoen. Sy belangrikste pos was dié van hoof van die VOC se handelspos in Tonkin, Viëtnam. Maar hy is van dié pos teruggeroep omdat daar ontdek is dat hy ook vir sy eie rekening handel gedryf het.
In 1651 is hy versoek om bevel oor te neem van die aanvanklike Nederlandse vestiging in die toekomstige Suid-Afrika. Sy drie skepe, die Drommedaris, Reijger en Goede Hoop het op Saterdag 6 April 1652 aan die Kaap geland en ’n fort is daar gebou om as halfwegstasie op die VOC-handelsroete tussen Nederland en Oos-Indië te dien.
Van Riebeeck het as kommandeur gedien van 1652 tot 1662. Omdat daar steeds baie spanning tussen Nederland en Engeland was, het die VOC gevrees dat Engelse skepe die Kaap kon aanval. Daarom moes Van Riebeeck inderhaas ’n fort bou. Hy het ook die natuurlike hawe van Tafelbaai verbeter, vrugte en groente aangeplant en vee van die inheemse Koi verkry. In die botaniese tuin te Kirstenbosch is daar steeds ’n wilde-amandelheining wat deur hom aangeplant is om die Hollandse nedersetting van die Koi af te skei. Die aanvanklike fort is van modder, klei en hout gebou, met vier hoeke of bolwerke. Dié fort moenie verwar word met die huidige Kaapse Kasteel met sy vyf bolwerke nie, wat tussen 1666 en 1679 gebou is, nadat Van Riebeeck reeds die Kaap verlaat het en van baksteen, klip en sement gemaak is.
Van Riebeeck het die eerste komeet van Suid-Afrika af ontdek, C/1652 Y1, wat hy op 17 Desember 1652 raakgesien het.
Omdat Van Riebeeck geld vir die kompanjie wou bespaar, het hy bepleit dat daar Vryburgers ingestel moes word wat nie lone sou ontvang nie, maar wat al die nodige landbouprodukte aan die skepe teen vasgestelde pryse moes verskaf.
In Februarie 1657 het die eerste Vryburgers hul plase ontvang en sodoende het ’n nuwe plaaslike volk, die Afrikanervolk, ontstaan. Reeds in daardie dae het hulle teen die koloniale owerheid begin agiteer, want in Desember 1658 het hulle hul eerste petisie aan die owerheid in Kaapstad oorhanding waarin hulle beswaar maak teen die gebrek aan ’n goeie mark en dat hulle nie op ’n vaste en bestendige prys vir hul produkte kon reken nie.
Die kommandeur het hulle egter weereens “gepayt met schoone woorden” en hulle huistoe gestuur met die opdrag “laat maar de ploegh wacker zyn gang gaan ende dorschvloer niet vercouwen”.
Nóg Van Riebeeck, nóg die Here Sewentien het besef dat hulle met die instellling van die Vryburgers ’n permanente kolonie gevestig het wat nooit weer sak en pak terug Nederland toe sou kon gaan nie. Ook in 1672 het die Vryburgers ’n petisie opgetrek en aan Van Riebeeck voorgelê, hoewel hy nie meer Goewerneur was nie.
Omdat die Vryburgers steeds nie ’n goeie prys vir hul graan kon kry nie, het hulle met vee begin boer wat veel makliker was. Om beter weiding vir hul kuddes te kry, het hulle ooswaarts begin uitbrei. Die veeboer het dus trekboer geword. Sodoende het die gestadigde verkenning en trek die binneland in begin.
Van Riebeeck was, soos die volk wat hy agtergelaat het, ywerig en ondernemend. Met sy vertrek in 1662 spog die jong Kaapse nedersetting reeds met ’n hospitaal, verskeie werkswinkels, ’n meule, ’n graanskuur, huise, stalle vir perde, beeste en skape, en groente- en vrugtetuine. Daar is ook ’n hawehoof, wat dit vir skeepspassasiers moontlik maak om regstreeks aan land te stap.
Ná die dood van sy vrou, tree Van Riebeeck op 10 Maart 1667 met Maria Scipio in die huwelik. Hulle sou nog een seun hê.
Van Riebeeck het op 18 Januarie 1677 in Batavië (die huidige Djakarta) op die eiland Java gesterf.
Met erkenning aan: Wikipedia en B.G. Lindeque, Suid-Afrikaanse en algemene geskiedenis, deel I.
