Minister van Verdediging, Hervé Morin, het Paris Match skerp gekritiseer oor die publikasie daarvan. "Waarom die Taliban se promosie vir hulle behartig?" het hy gevra tydens 'n radio-onderhoud. Die 10 soldate wat onlangs in 'n Talibanaanslag gesterf het, is die grootste Franse militêre verlies in 25 jaar.
Die Franse publiek voel by aanskoue van die uitdagende foto's na dese dat die risiko's in Aghanistan te veel geword het. Dit het vrae laat ontstaan oor die wenslikheid van 'n militêre sending aldaar. Die publikasie het nou sake vertroebel vir diegene wat argumenteer dat Frankryk in Afghanistan moet aanbly.
Verskeie NAVO-lande het soldate in Afghanistan en die foto-artikel skep vir hulle onderskeie regerings ook 'n tameletjie omdat die openbare mening tot dusver nie deur sulke kommunikasie beïnvloed is nie. Trouens, Morin verwys na die artikel as 'n suksesvolle Taliban aanslag op Franse grondgebied omdat die openbare mening juis die achilleshiel van die internasionale gemeenskap verteenwoordig.
Maar Nicolas Sarkozy het hom nie van stryk laat bring nie. Hy hou steeds vol dat Frankryk daar moet aanbly om terreur tuis te verhoed. Hy meen dat indien Afghanistan nie ondersteun word nie, dit uiteindelik sal beteken dat Pakistan gedestabiliseer sal raak. Onlangse gebeure soos die Amerikaanse aanval in Pakistan, mag dalk reeds daarop dui dat die Franse president ingehaal is deur sy voorspelling.
Sarkozy se waarskuwings word verder uitgedoof deur die ontstelde familielede se leed wat ook gerapporteer is. Om hulle kinders se moordenaars só selfvoldaan te sien was vir hulle die grootste skok, sê een vader.
Een van die nege Talibanvegters in die droeë, ruwe bergagtige noord-ooste van Kaboel, spog met 'n swart horlosie aan sy pols op 'n foto. Die vegter het die horlosie aan die fotograaf gegee om aan die ouers van die soldaat terug te besorg met die boodskap dat geen Franse troep weer lewendig uit hulle land sal vertrek nie.
Dit het Chantal Buil, moeder van die dooie, inderhaas genoop om 'n pleitende brief aan Sarkozy te rig waarin sy smeek dat hy Franse soldate uit Afghanistan onttrek. "Moenie vir Bush volg nie", sê sy. "Kom ons bly Frans en bly tog daaruit".
In 'n onlangse meningspeiling het 55% haar sienswyse ondersteun en 36% het gedink Frankryk moet aanbly. Bespiegelinge dat NAVO se onbekwaamheid die 10 Franse soldate se dood veroorsaak het en 21 gewond gelaat het, word bestendig deur 'n ondersoek wat geloods is en waarvan die ongelukkige gevolgtrekkinge ook in dieselfde uitgawe verskyn.
Die ondersoek wat deur die Franse militêre polisie afgehandel is, het volgens Le Monde bevind dat die oorlewendes meer as drie uur op versterkings moes wag omdat NAVO nie bystand behoorlik kon koördineer nie en gruwelike besluitnemingsfoute gemaak het.
