Werktuigkundige terug uit ebola-gebied danksy weldoeners

Gerhard Van Zyl wat in Wes-Afrika vasgekeer is, is tuis sonder ebola.

Van Zyl het as ’n werktuigkundige by ’n diamantmyn in Sierra Leone gewerk, maar weens die epidemie is alle vlugte opgeskort. Weldoeners het hulle oor Van Zyl ontferm en hom ‘n gratis vliegtuigkaartjie aangebied, het Netwerk24 berig.

Hy het Dinsdagaand saam met nog sowat 80 Suid-Afrikaners uit Sierra Leone gevlieg. By O.R. Tambo-lughawe is hul temperatuur eers gemeet voordat hulle deurgelaat is.

Sy gesin was erg aangedaan om hom weer te sien.

Van Zyl het gesê drie mense in Koidu Town, slegs 40 km van die myn waar hy werk, is weens Ebola dood, terwyl nog 200 inwoners van die dorp in kwarantyn geplaas is.

Hy sê hulle was baie bewus van die epidemie: “Jy was jou hande seker 20 keer ’n dag.”

Die direkteur van ‘n onderneming – ook ‘n Bloemfonteiner – wat ystererts in Sierra Leone myn, het reëlings getref dat ’n huurvliegtuig elke tweede week werknemers na en van Suid-Afrika vlieg.

Die weldoener Joe Scheepers en sy vrou Heloïse, van African Mining and Crushing (AMC) wat ’n kontrakteur van African Mineral Limited (AML) is, het aan Van Zyl ‘n gratis kaartjie aangebied.

“Ek kan net vir hulle sê baie dankie. Ek het nooit gedink iemand sal my so help nie,” het Van Zyl gesê.

Van Zyl het ’n jaar en ’n half in Sierra Leone gewerk. Hy werk drie maande op ’n slag voordat hy vir drie weke huis toe kom.

Van Zyl het intussen sy werk in Wes-Afrika bedank en gaan nou as ’n werktuigkundige in Bloemfontein werk.

“Ek sal nie weer teruggaan nie,” het hy gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae