Prof Hayman Russel Botman, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), is vannag by sy huis op Stellenbosch in sy slaap oorlede.
Mnr George Steyn, Voorsitter van die Universiteitsraad het sy innige medelye met prof Botman se vrou, Beryl, sy kinders, familie en die Universiteit se personeel en studente uitgespreek. “Russel was ’n liewe en geliefde mens. Ek het groot ontsag vir sy integriteit en sy leierskap, onder meer die manier waarop hy gedurende die stormagtige jare destyds die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Wes-Kaapland oorgebring het na die Universiteit Stellenbosch. Hy is ’n man wat vas gestaan het ten opsigte van sy eie oortuigings en beginsels, en daarvolgens geleef het. Die Universiteit Stellenbosch het die afgelope klompie jare groot baat gevind by sy visioenêre leierskap, wat ʼn weerspieëling was van sy lewensfilosofie dat die US se uitnemende navorsing en onderrig ’n verskil in die samelewing moet maak.
“Russel het gereeld in gesprekke tussen ons verwys na die feit dat die ‘plaaseienaar se kind en die plaasarbeider se kind ʼn gelyke kans moet hê om ʼn Matie te wees’. Ook het hy telkens vir my gevra of ons genoeg doen om te verseker dat die US, as 21ste eeuse universiteit, genoeg doen om terselfdertyd toe te sien dat sy en my kleinkinders eendag hier in Afrikaans sal kan studeer.
“Ek wil ook namens die breë Universiteitsgemeenskap vir Beryl bedank en ons waardering uitspreek vir haar liefdevolle en onbaatsugtige bystand aan Russel.”
Dr Johann Rupert, Kanselier van die US, het gesê dat prof Botman ʼn persoon met onkreukbare integriteit was wat hom altyd vir sy medemens opgeoffer het. “Hy het sy diep geloof daagliks uitgelewe.
“Die twee van ons het net verlede week ʼn heerlike middagete geniet waartydens ons ʼn breedvoerige gesprek gehad het. Taalkwessies, studente veiligheid en die algemene stand van Suid-Afrika was bespreek.
“Onregverdige kritiek uit verskeie oorde het hom duidelik diep seergemaak. Russel het dit egter verduur sonder om te kla.
“Namens my familie wil ek ook innige simpatie en medelye aan Beryl en die kinders oordra. Die Universiteit Stellenbosch en Suid Afrika het ’n persoon van groot waarde verloor. Ons gaan hom geweldig mis.”
Prof Botman sou komende week na die buiteland vertrek het, en hy het prof Leopoldt van Huyssteen, Bedryfshoof van die US as waarnemende rektor aangewys. Prof Botman sou in Julie vereer word met ’n eregraad van die Universiteit van Aberdeen in Skotland. Prof Van Huyssteen sal in hierdie hoedanigheid waarneem tot wanneer die Uitvoerende Komitee van die Raad in Julie vergader.
Prof Botman word oorleef deur sy vrou, Beryl en vier kinders: Hayman, Ilse, Roxanne en Lizelle. Die begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.
Bio van Prof H Russel Botman
Professor Hayman Russel Botman was die Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US). Hy is in 2007 in dié amp aangestel, en in 2012 heraangestel vir nog ʼn 5-jaar termyn.
Ten tye van sy dood was hy ook Senior Visepresident van die Vereniging van Afrika-universiteite, Raadsvoorsitter van Kaapstad as Wêreldontwerphoofstad 2014, en ʼn Direksielid van Hoër Onderwys Suid-Afrika en van Media24. Hy het ook van 2006 tot 2011 as Direksievoorsitter van die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees gedien.
Hy is op 18 Oktober 1953 in Bloemfontein gebore, en was as laerskoolkind in die Dr Blok-skool in Heidedal. Hy matrikuleer aan die Kliptown Senior Sekondêre skool in Johannesburg, waarna hy sy studies aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) voortsit. Hy verwerf die grade BA (1978), BTh (1979), BTh Lisensiate (1981), MTh cum laude (1984) en DTh (1994).
As lid van UWK se Studenteraad in 1976, die jaar van die Soweto-opstand, het hy sy medestudente in protes teen apartheid gelei.
Hy is in 1982 as predikant van die destydse NG Sendingkerk georden, en dien van 1982 tot 1993 as leraar in Wynberg. Hy sou ʼn sleutelrol speel in die totstandkoming van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, en was enduit ʼn sterk voorstander van eenheid in die NG Kerkfamilie.
In 1994 word hy as Senior Lektor in Praktiese Teologie by UWK aangestel, en in 1999 word hy tot Medeprofessor en Dekaan van die Fakulteit Godsdiens en Teologie bevorder. In 2000 word hy as Professor in Praktiese Teologie en Missiologie aan die US aangestel. Hy het 38 studente van UWK af met hom saamgebring toe daar besluit is om die VKSA se Kweekskool te verskuif weens rasionalisasie aan die UWK.
In 2002 word hy Viserektor: Onderrig, ʼn pos wat hy beklee tot sy historiese aanstelling as die US se eerste swart Rektor en Visekanselier in 2007. Hy het ook van 2003 tot 2007 as President van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke gedien, en het talle akademiese en populêre artikels oor menseregte, versoening, menswaardigheid en maatskaplike geregtigheid gepubliseer.
Die titel van sy inhuldigingstoespraak aan die US in April 2007 was “ʼn Multikulturele universiteit met ʼn pedagogie van hoop in Afrika”, en hy het gesê hy sou hom daaraan toewy om die US se uitgesproke verbintenis tot regstelling en ontwikkeling in die praktyk te verwesenlik. In 2010 stuur hy die US se HOOP Projek van stapel, waardeur die Universiteit ontwikkeling in die samelewing bevorder. In 2013 aanvaar die Universiteit onder sy leiding ʼn nuwe Visie 2030, wat daarop gemik is om die instelling meer inklusief, innoverend en toekomsgerig te maak.
In Maart 2014 het hy ʼn eredoktorsgraad van Hope College in die VSA ontvang vir leierskap in die hoëronderwys en die gereformeerde kerk om geregtigheid vir alle Suid-Afrikaners te bevorder. In April 2013 het hy die Abraham Kuyper-prys van die Princeton Theological Seminary in die VSA ontvang vir uitnemendheid in teologie en die openbare sfeer. Hy het ook erelidmaatskap van die Verenigde Nasies Vereniging van Suid-Afrika ontvang vir die bevordering van die Millennium Ontwikkelingsdoelwitte. En op 8 Julie 2014 sou hy ʼn eredoktorsgraad van die Universiteit van Aberdeen in Skotland ontvang het.
Prof Botman word oorleef deur sy vrou, Beryl en vier kinders: Hayman, Ilse, Roxanne en Lizelle. – Universiteit van Stellenbosch se mediavrystelling
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.