Toe hy gister gevra is of die onderhandelings goed verloop, het Mugabe geantwoord: "Nie eintlik nie." Maar hy het bygevoeg dat daar meer samesprekings Dinsdag sou plaasvind.
Mugabe, die opposisiepartye en president Thabo Mbeki, wat die rol van bemiddelaar speel, hou sedert Sondag samesprekings agter geslote deure in 'n hotel in Harare.
Mugabe en die hoofopposisieleier Morgan Tsvangirai ding om die toppos in die land se regering mee. Die hoofkwessie is watter rol Mugabe, wat reeds in sy tagtigerjare verkeer, in die nuwe regering gaan speel.
Tsvangirai het gesê dat hy met gematigdes van Mugabe se Zanu-PF-party kan saamwerk, maar nie met Mugabe nie. Zanu-PF dring daarop aan dat Mugabe as president aanbly.
