Danksy Solsjinitsin en ander Russiese dissidente se dapper stryd, kan ons vandag sê dat kommunisme as 'n ideologie dood is. Kommunistiese praktyke, asook die siening van die mens wat deur kondisionering en breinspoeling gelykheid en eenselwigheid met ander moet aanvaar, is egter nie verby nie.
In Suidelike Afrika het ons gesien hoe Robert Mugabe die ekonomie van ons buurstaat Zimbabwe vernietig deur 'n rampspoedige eksperiment in kollektiewe boerdery soos wat in die Sowjetunie in die twintiger- en dertigerjare van die vorige eeu toegepas is. Suid-Afrika, tesame met Kuba, Noord-Korea en China, is een van die laaste lande op aarde waar 'n kommunistiese party 'n vername rol in regering speel en waar die meeste leiers, sonder 'n sweem van ironie, mekaar as "kameraad" aanspreek.
Terwyl hongersnood in Zimbabwe heers en daar wêreldwye kommer bestaan oor hoë voedselpryse, is Suid-Afrika se ANC-regering besig om dieselfde beleid as Robert Mugabe in te voer deur kollektiewe boerdery in te stel met 'n drakoniese onteieningswet waarmee die grond van individuele boere sonder markverwante vergoeding genasionaliseer kan word. Ook die moordbendes wat op die Suid-Afrikaanse platteland ons boere aanval en onder die gruwelikste omstandighede martel en doodmaak, word grotendeels deur die staat geïgnoreer want die plaasmoordenaars dien dieselfde doel as Zimbabwe se "oorlogsveterane", d.w.s. om die regmatige eienaars van hul grond te verdryf.
Net soos die wêreld vir 'n groot deel van die twintigste eeu sy oë en ore toegedruk het vir Sowjetvergrype en -mislukkings, wil niemand vandag hoor van mislukte grondhervorming en die vervolging van minderheidsgroepe in Suider-Afrika waar ons eiendom, ons taal, kultuur en ons lewens self, elke dag bedreig word nie.
Na die voorbeeld van Solsjenitsin, moet ons as skrywers egter die moed hê om die ongewilde waarheid te praat. Ons sal ons skrywerlike en intellektuele plig versaak indien ons nie die geestelike goelag in ons subkontinent aandurf en uiteindelik oorwin, hoe onwaarskynlik en haas onmoontlik dit tans mag lyk nie.

Gister het ek namens ons skrywersorganisasie, Pretoria-PEN, hulde gebring aan Alexander Solsjenitsin wat eergister in die ouderdom van 89 jaar oorlede is. Meer as enigiemand het Solsjenitsin die masker van kommunisme deur sy geskrifte afgeruk en aan die wêreld die ware gesig van Sowjetkommunisme getoon met sy strafkampe en psigiatriese hospitale waar dissidente aagehou is.