’n Olieraffinadery in Kinshasa wat vermoedelik deur mortiergeskut getref is, het ’n donker rookwolk oor die stad laat hang. Talle restaurante is Donderdagaand geplunder. Die Spaanse ambassadegebou het onder geweervuur deurgeloop en volgens Toussaint Tshilombo, regeringswoordvoerder, is die Zimbabwiese ambassade bestorm.
Die VN kon intussen 630 burgerlikes na veiligheid bring te midde van gevegte wat die hele nag geduur het. Volgens ooggetuies is ’n petroldepot ook in ligte laaie gelaat. Hoeveel mense werklik omgekom het en hoeveel beseer is, is nie bekend nie.
Ooggetuies berig verder dat talle lyke op die Boulevard, die hoofstraat in die sentrum, opgemerk is. ’n Buitelandse vrou wat swaar gewond is, is na die hospitaal gebring volgens ’n werknemer van die Memlinghotel. Die kroeg van dié hotel is deur geweervuur getref. ’n Twaalftal Duitsers is onder meer gaste daar.
Ban Ki-moen, sekretaris-generaal van die VN, het in ’n verklaring gesê dat die toestand in die Kongo uiters kommerwekkend voorkom.
