Zim wettig nog geldeenhede teen naderende geldkrisis

Die waarnemende goewerneur van die Zimbabwiese Reserwebank, Charity Dhliwayo
Die waarnemende goewerneur van die Zimbabwiese Reserwebank, Charity Dhliwayo

Volgens mediaberigte dreig ‘n nuwe geldkrisis in Zimbabwe met baie min likiditeit in die land. Daarom het die regering aangekondig dat nog ‘n viertal buitelandse valutas in die land toegelaat sal word. Hule is: die Chinese joean, die Indiese roepee, die Japannese jen en die Australiese dollar. Prakties beteken dit dat daardie geldeenhede nou ook wettige betaalmiddels in Zimbabwe is.

Ander geldeenhede wat reeds aanvaar word, is die Botswana-pula, die SA rand, die euro en Britse pond.

Die waarnemende goewerneur van die sentrale bank, Charity Dhliwayo, sê uitvoerders en die algemene publiek mag voortaan dié buitelandse geld gebruik, asook rekeninge in sodanige valutas aanhou.

Sedert 2009, toe hiperinflasie in die land gewoed het, het Zimbabwe nie meer ‘n eie geldeenheid nie. Sedertdien is die Amerikaanse dollar as die belangrikste geldeenheid aanvaar, in ‘n poging om aan hiperinflasie te ontkom.

Met die land weereens onder ekonomiese druk, poog die sentrale bank om soveel likiditeit as moontlik na Zimbabwe te lok.

Volgens Charity Dhilwayo ervaar die ekonomie ‘n erge likiditeitskrisis. wat beteken dat die plaaslike nywerheid geen krediet kan verkry nie, terwyl invoerkostes verhoog en plaaslike produkte glad nie mededingend is nie.

Na raming sirkuleer $2 miljard buite die bankstelsel, aangesien rentekoerse laag en die bankkostes hoog is. Die lae vlakke van deposito’s veroorsaak die likiditeitskrisis in die banksektor.

Charity sê ook dat sy die minimumkapitaalvereistes vir banke tot $25 miljoen verlaag het, teenoor die $100 miljoen wat voorheen beplan is.

Die banke is aangesê om hul minimumkapitaal teen Junie vanjaar tot $100 miljoen te verhoog, maar dié sperdatum is nou tot 31 Desember 2020 verleng.

Die sentrale bank poog tans om hom te herkapitaliseer met ‘n lening van $150 – $200 miljoen teen die einde van Maart vanjaar, waarna hy weer sy funksies van die regering se bank en lener in die laaste instansie sal hervat.

Volgens ‘n vorige minister van finansies van Zimbabwe, Simba Makoni, beskik die regering egter oor geen “rasionele planne” vir die ekonomie nie. Makoni, wat die huidige leier van die opposisie is, sê dat “in weerwil van al die retoriek oor die nasionale begroting vir 2014 van $4,1 miljard, is daar geen rasionele, volhoubare, samehangende beleid wat die burgers, veral spelers in die ekonomie, kan rig om vir die toekoms met helderrheid en vertroue te beplan nie”.

7 thoughts on “Zim wettig nog geldeenhede teen naderende geldkrisis”

  1. Hierdie eens juweel van ‘n land is nou so in sy mhur in! Net ‘n bewys hoe kan hierdie lot ‘n land oor die afgrond ry.
    Nou word daar gewonder hoekom is daar baie min likiditeit. Dis maklik om te verklaar. Die likiditeit vloei in Mugabe en sy cronies se sakke in.

    NS: Charity is ‘n baie gepaste naam vir Zim se waarnemende goewerneur van die sentrale bank! Hulle oorleef dag tot dag op charity.

Maak 'n opvolg-bydrae