Een van die leiers van die Beweging vir die bevryding van die Nigerdelta het aangekondig dat sy vegters die Bonga-olieveld meer as 100 kilometer van die land af aangeval het. Maar hulle het nie daarin geslaag om by 'n rekenaarbeheerkamer uit te kom wat hulle wou vernietig nie.
Die guerillagroep het ook beweer dat hulle 'n buitelandse werker van 'n voorradeskip op pad huis toe na die aanval ontvoer het, maar dit kon nie onmiddellik deur ander bronne bevestig word nie.
Gewoonlik is olieproduksie-installasies ter see veiliger as op land in Nigerië waar geweld oor die afgelope twee jaar toegeneem het.
Die onstabiliteit in die suide van Nigerië het reeds veroorsaak dat die land 'n kwart van sy jaarlikse olieproduksie ingeboet het, iets wat die internasionale prys van ru-olie ondersteun.
