Honderde boere het egter opgeruk om teen die nuwe wet beswaar te maak teenoor die parlementêre portefeuljekomitee.
Mnr. Louw Steytler van Vrystaat Landbou het hom teen enige vorm van inmenging in die mark uitgespreek omdat dit verreikende gevolge vir voedselsekerheid in die land sal hê.
Steytler het verder gesê dat die saak eers na die Grondwethof verwys behoort te word. Die voorgestelde wet verleen wye magte aan die owerheid om te onteien en beperk die inspraak van die howe sover dit die billikheid daarvan betref.
Van die boere het 900 skriftelike besware teen die voorgestelde wet aan regeringsverteenwoordigers oorhandig.
Die Vryheidsfront Plus in die Vrystaat is ontstoke oor "die uiters swak reëlings met die verhore van die Nasionale Portefeulje Komitee vir Openbare Werke wat vandag en more in die Vrystaat plaasvind oor die voorgenome Onteieningswet. Die verhore wat vandag en more onderskeidelik te Bethlehem-stadsaal en Fase 2, (Plakkersgebied) Grasland, Bloemfontein plaasvind, is uiters swak gereël. Die Vryheidsfront Plus het eers Vrydagmiddag laat kennis ontvang van die verhore. Die plek of adres waar die verhoor te Fase 2, Grasland sal plaasvind kan tot nou toe nog nie vasgestel word nie. Een kennisgewing toon aan dat die verhore om 09:00 sal plaasvind, ander dui weer 10:00 en 11:00 aan en op die kennisgewing wat Vrydag ontvang is, word geen tyd aangetoon nie. Die hele organisering van die betrokke verhore getuig van een groot chaos. Die Vryheidsfront Plus het in die lig daarvan besluit om sy insette oor die Onteieningswet direk by die Parlement in te dien."
Die Vryheidsfront Plus beskou verder die voorgenome Onteieningswet as drakonies en totaal onaanvaarbaar. Die nuwe Onteieningswet wat moontlik nog in hierdie jaar deur die Parlement gevoer sal word, hou ‘n groot gevaar vir grondeienaars in. Hierdie Wet hou nie net groot gevaar in vir die landbou nie, maar ook vir residensiële eiendomme, kommersiële eiendomme en selfs losgoed.
Die Minister van Openbare Werke kry totale bevoegdheid oor onteiening. Die Minister besluit alleen oor wat onteien moet word en bepaal ook die waarde van die eiendom wat onteien word. Die eienaar kan ook nie meer, soos in die verlede, hom/haar tot die hof wend oor die vergoedingsbedrag vir die eiendom nie. Die voorgestelde wet bepaal dat, waar dit in openbare belang is, onteiening kan plaasvind. Die regering sien ook swart ekonomiese bemagtiging, transformasie en regstellende aksie as in openbare belang.
