Polisielede werk ten spyte van duur siviele eise

Nathi Mthethwa
Nathi Mthethwa

Die minister van Polisie, mnr. Nathi Mthethwa, sê sedert 2009 is geen klagtes van wangedrag teen enige lid van die Polisie ingestel waar howe siviele eise teen die Polisie toegestaan het nie. Dit blyk uit ‘n antwoord van die minister van Polisie, mnr. Nathi Mthethwa, op ’n vraag van Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus in die parlement.

“Hierdie is een van die groot redes vir swak dissipline en hoekom daar ’n toename in brutaliteit en onregmatige optrede deur polisielede is. Dit beteken ’n polisielid kan hom/haar skuldig maak aan wangedrag, die siviele eis slaag teen die Polisie, die belastingbetaler moet opdok, maar die lid is skotvry en gaan eenvoudig voort om te werk asof niks gebeur het nie. Dit is net logies dat sulke polisielede dink hulle is verhewe bo die reg en onaantasbaar. Dit is skandalig en die minister moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir die swak bestuur in die Polisie. Onmiddellike dissiplinêre stappe moet teen die skuldige lede ingestel word,” sê mnr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder oor Polisie vir die Vryheidsfront Plus.

Uit ’n vroeëre vraag van Groenewald vanjaar het die minister gesê uitbetaling van siviele eise wat howe teen die Polisie toegestaan het, het sedert 2009 met meer as 100% toegeneem. Howe het in 2008/2009 R50,1 miljoen se siviele eise teen die Polisie toegestaan, teenoor R108,5 miljoen in 2011/2012. Die helfte van die eise in 2011/2012 was as gevolg van onregmatige arrestasies (R53,7 miljoen).

“Belastingbetalers moes die afgelope vier jaar R137,2 miljoen opdok net vir onregmatige arrestasies. Die eise was ook weens ernstige wangedrag wat aanranding insluit. Die minister sê geen stappe is teen die skuldige lede geneem nie en dit is totaal onaanvaarbaar,” het Groenewald gesê.

2 thoughts on “Polisielede werk ten spyte van duur siviele eise”

  1. Hierdie eise ruk handuit. Wat hier ook gebeur is dat van die polisie saam werk met die eiser vir ‘n gedeelte van die geld. Dit is ‘n fyn beplande ding. Die eise word nie in diepte ondersoek nie, maar oppervlakkig en word net uitbetaal.

Maak 'n opvolg-bydrae