Mandela-kinders baklei oor grafte

Gautengse koerante het Woensdag berig dat oudpres. Nelson Mandela se kleinseun, Mandla Mandela, uit ‘n familievergadering in Qunu geloop het na ‘n meningsverskil in die familie.

Drie bronne het aan The Star gesê daar is ‘n stryd tussen Mandla Mandela – wat wil hê Mandela moet by sy geboorteplek in Mvezo begrawe word – en die res, wat voel daar moet gehoor gegee word aan sy wens om langs sy kinders begrawe te word.

The Star het berig dat “belangrike” familiesake Dinsdag by die Mandela-familie se vergadering in Qunu bespreek is.

Die vergadering is bygewoon deur die familie, die UDM-leier Bantu Holomisa, en Lindiwe Sisulu, minister van die staatsdiens en administrasie.

The Times het berig dat ‘n groep familielede beplan om na Gauteng te vlieg vir ‘n besoek aan Mandela, wat in ‘n kritieke toestand is, waarna hulle sal besluit wat om te doen.

Die vergadering Dinsdag het volgens berigte gefokus op Mandela se gesondheidstoestand, en oor die verskuiwing van die familiegrafte van Qunu na Mvezo in 2011. Die grafte is deur Mandla Mandela verskuif.

The Times het berig die familie wil hê die grafte van drie van Mandela se kinders – sy seuns Makgatho en Thembekile, en sy dogter, Makaziwe – moet in Qunu wees.

Die koerant het berig dat ‘n ontstoke Mandla Mandela, wat die grafte geskuif het sonder om die familie te raadpleeg, uit die vergadering gestorm het.

Mandla Mandela kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Maak 'n opvolg-bydrae