Snowden vlug na Moskou

Edward Snowden is tans in Moskou nadat hy uit Amerika gevlug het. Snowden het na bewering hoogsgeheime dokumente oor spioenasiebedrywighede verklap.

Washington sê Snowden is ‘n nasionale veiligheidsbedreiging en moet in Amerika teregstaan op aanklagte wat verband hou met die openbaarmaking van beweerde spioenasiemetodes.

Die voormalige kontrakteur vir die Amerikaanse NSA sê teikens van die Amerikaanse regering hou China se selfoonmaatskappye dop asook twee universiteite se internetbedieners.

Die jongste bewerings is bekend gemaak deur die South China Morning Post in Hong Kong, waar Snowden voorheen weggekruip het.

Amerika het op sy beurt vir Snowden van spioenasie en diefstal van staatseiendom beskuldig, en druk op China probeer plaas om Snowden uit te lewer.

Amerikaanse owerhede het formeel aanklagte van spioenasie aanhangig gemaak teen Edward Snowden, die voormalige intelligensie-tegnikus wat inligting oor die Amerikaanse nasionale veiligheidsagentskap (NSA) se uitgebreide internetspioenasieprogram bekend gemaak het.

Die VSA het owerhede in Hongkong gevra om hom in hegtenis te neem, het ‘n Amerikaanse amptenaar Vrydag aan die nuusagentskap AFP gesê.

Die amptenaar het ‘n berig oor die aangeleentheid in die Washington Post bevestig, en gesê aanklagte is by ‘n federale hof in die Amerikaanse staat Virginië aanhangig gemaak. ‘n Voorlopige lasbrief vir sy arres is ook uitgereik.

Snowden word aangekla van spioenasie, diefstal en “die hantering van regeringseiendom.” ‘n Berig op NBC News het gesê hy word daarvan aangekla dat hy geheime dokumente gedeel het met individue wat nie gemagtig was om dit te ontvang nie.

Die 30-jarige tegnikus het op 20 Mei uit Hawaii gevlug na Hongkong, waar hy intelligensiegeheime aan verskeie mediabronne beskikbaar gestel het.

Maak 'n opvolg-bydrae