Suid-Afrika se kunsgemeenskap is geskok oor die nuus dat die bekende kunstenaar Zwelethu Mthethwa van moord verdink word.
City Press berig die kunstenaar het reeds in die hof verskyn in verband met ‘n vrou wat vroeër vanjaar doodgeslaan is.
Mthethwa (52) word wêreldwyd gevier. Hy het reeds meer as 50 solo-uitstallings van sy kleurvolle foto’s en skilderye wêreldwyd gehad.
Die Burger het die naweek berig dat die kunstenaar op 5 Mei op aanklag van moord in hegtenis geneem is. Hy is die volgende dag op borgtog van R100 000 vrygelaat.
Mthethwa het na bewering op 13 April in Ravenscraigstraat in Woodstock, Kaapstad, stilgehou, waar hy ‘n vrou doodgeslaan en -geskop het. Dit is op kringtelevisie opgeneem.
Volgens berigte was die oorledene ‘n prostituut.
Mthethwa sal weer op 26 Augustus in die hof verskyn.
