Twee van BHP Billiton se kragintensiewe aluminiumsmelters is Donderdagaand afgeskakel omdat die vraag na elektrisiteit Eskom se beskikbare hoeveelheid krag oorskry het, het Beeld berig.
Hilary Joffe, Eskom se woordvoerder, het Donderdagaand ná die spitsverbruikstyd gesê die vraag na elektrisiteit was meer as 35 000 MW tussen 17:00 en 21:00. Eskom kan 34 970 MW krag opwek.
Eskom het ‘n ooreenkoms met BHP en ander maatskappye om hul kragtoevoer tydelik af te sny wanneer die vraag in spitstye gevaarlik hoog is.
Die huidige koue en die langnaweek het Donderdagaand meegebring dat die vraag na elektrisiteit Eskom se beskikbare hoeveelheid krag oorskry het, het Joffe gesê.
Joffe het gesê Donderdagaand was ‘n goeie voorbeeld van ‘n vroeë waarskuwing dat Suid-Afrikaners dié winter ernstig krag sal moet spaar.
