Vaardigheid, en nie net ras nie, moet deur die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA) oorweeg word wanneer hy kandidate kies vir sy kadetprogram vir voornemende vlieëniers, het die FW de Klerk-stigting Donderdag gesê.
Dis begryplik dat SAA wil hê sy vlugpersoneel moet verteenwoordigend wees van die land se demografie, het Jacques du Preez, woordvoerder vir die stigting, gesê.
Hy het egter gesê die lugdiens moet ook ander faktore in ag neem wanneer hy kandidate kies.
“Hy moet verseker dat vermoë… genoeg gewig dra in sy indiensnemingsbesluite. Die relatiewe vaardigheid, vermoë en kwalifikasies van aansoekers moet ‘n sentrale rol speel in die SAA se indiensnemingsbesluite, ongeag ras of geslag,” het hy gesê.
SAA het Maandag aangekondig dat 40 kandidate vir sy kadetprogram gekwalifiseer het: 10 is swart mans, vier swart vroue, nege bruin mans, een bruin vrou, sewe Indiërmans, twee Indiërvroue, en sewe wit vroue.
Du Preez het gesê die eerste vereiste behoort te wees dat die kandidate uitstekende vlieëniers moet wees, ongeag hulle ras.
SAA het in Augustus verlede jaar sy aanvanklike besluit om geen aansoeke van wit mans te aanvaar nie, opgehef.
Verskeie wit kandidate het in 2012 aansoek gedoen vir die program, maar hul aansoeke is summier verwerp wanneer hulle hul ras op die aanlyn-aansoekvorm ingetik het.
Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die SAA, het destyds gesê die kadetprogram is geadverteer om die demografie van sy vlieëniers te verander. Volgens hom was 91% van die lugdiens se vlieëniers in daardie stadium wit mans.
Dr. Dirk Hermann, adjunkhoof van Solidariteit, het gesê verlede jaar se opheffing van die verbod was net ‘n rookskerm. Hy het gesê die vakverbond gaan ‘n veldtog teen die lugdiens begin.
Tlali Tlali, woordvoerder van die SAA, het gesê dit is belangrik om te verseker dat daar transformasie in alle dissiplines van die maatskappy is.
“Tans is die SAA se vlugbemanning nie ‘n weerspieëling van Suid-Afrika se rasse- en geslagsdemografie nie.”
Die inname vir die 2013-’14-kadetprogram word in Augustus vanjaar geadverteer.
