DA-jeug wil vreedsame Kleinfontein kultuurgemeenskap intimideer

Die DA-jeug is van plan om vandag by Kleinfontein te kom betoog omdat Kleinfontein kwansuis rassisties is. In haar nuusvrystelling op die DA se webwerf sê die Jeugleier Mbali Ntuli onder meer: “We cannot allow racial nationalists on the extreme fringes of South African politics to try and bring apartheid back. The DA fought against apartheid in the past; we will not tolerate it coming back in any shape or form.”

Honderde DA-lede word teen 11:30 verwag. Daar is heelwat mediabelangstelling. Die DA-jeug het laat gisteraand ook die uitnodiging op internet uitgebrei na enigeen wat wil kom saam betoog.

“KBK se Direksie sal die situasie en die gesindheid van die betogers lees en hulle dan moontlik innooi na die rugbyveld of as daar min genoeg van hulle is, die gemeenskapsaal. Ons sal die leier van die DA-groep nader om ‘n vrywaringsvorm te teken dat die DA verantwoordelikheid vir enige moontlike skade, asook lewensverlies, op Kleinfontein, wat privaat-eiendom is, wat spruit uit hulle optrede, sal aanvaar.

“Die een ding wat ons moontlik met hierdie aksie van die DA sal kan aantoon, is dat die DA-leiding nie Afrikaner-vriendelik is nie,” het hy bygevoeg.

Met hierdie optrede verbreek die DA minstens drie van hulle eie party se beginsels:

1. Die fundamentele regte en vryheid van elke persoon – insluitende die reg van vryheid van gewete, spraak, assosiasie, en beweging.

2. Die taal-, kulturele en godsdienstige regte van indiwidue en die gemeenskappe wat hulle skep deur vrye assosiasie.

3. Die verwerping van geweld en intimidasie as ‘n politieke instrument.

DA optrede volg na mediabelangstelling

Dié beplande optrede van die DA-jeug volg nadat die berig van Kleinfontein in The Times verskyn het en News24 dit oorgeneem het. Kleinfontein is die afgelope paar weke deur minstens drie koerante besoek. In al die onderhoude met hierdie koerante is die feit dat Kleinfontein ‘n kultuurgemeenskap is wat ingevolge artikel 235 van die SA Grondwet die reg het om te bestaan, deurgaans beklemtoon, maar die joernaliste het telkens verkies om die klem op ras te laat val.

Die berigte in Sunday World, ‘n susterskoerant van die Sowetan, was veral baie eensydig. Kyk hier om Sunday World se redaksionele artikel te lees. Pretoria News se berig was meer positief, maar die berig in The Times was weer eens baie eensydig, maar het tog positiewe aspekte na vore gebring.

Die positiewe aspekte

‘n Mens skep egter moed vir Kleinfontein se saak as die kommentaar van die lesers by al hierdie berigte deurgegaan word en jy agterkom dat baie Afrikaners en ook ander mense keelvol is vir die dubbele standaarde in die nuwe Suid-Afrika. Wat ook verblydend is, is dat sedert hierdie berigte verskyn het, daar ‘n toeloop van mense is wat aansluit by Vriende van Kleinfontein. Dit het ook Kleinfontein se solidariteit met Orania versterk.

Die Vryheidsfront Plus het na die Pretoria News berig ‘n nuusvrystelling uitgestuur en hom opnuut verbind tot die idee van selfbeskikking.

“Daar word telkens in die media negatief berig oor Afrikaner kultuurgemeenskappe wat daarna streef om ‘n groter mate van selfstandigheid te behaal terwyl Xhosa, Zoeloe en ander gemeenskappe die roede gespaar word.

“Die bestaan van ‘n ‘black lawyers forum” en BBBEE wat ‘n suiwer ras-assosiasie is, word verdra terwyl ‘n kultuurassosiasie van ‘n groep as rassisties beskou word.

“Die VF Plus bevorder die beginsel dat enige groep selfstandigheid kan nastreef en besonder die Afrikaner wat toenemend deur middel van rasgebaseerde regstellende aksie wetgewing van deelname aan die ekonomie ontneem word,” het Jaco Mulder, leier van die VF Plus in die Gauteng Wetgewer onder meer gesê.

Het wit Suid-Afrikaners ‘n toekoms?

“Look below the surface and you will find poverty and a sense of growing vulnerability,” sê ‘n berig van die BBC oor blanke armoede wat op 19 Mei gepubliseer is. Die berig insinueer dat wit mense hulle ellende oor hulleself gebring het deur apartheid en haal die politieke aktivis, Mandla Nyaqela aan: “This is the after-effect of the huge degree of selfishness and brutality which was shown towards the black population under apartheid.”

Dit kontrasteer sterk met die uitspraak deur nuwegeskiedenis.co.za dat in 1964 Harry Oppenheimer, die hoof van Anglo American, verreweg die grootste nywerheidsreus in Suid-Afrika, opgemerk dat die gemiddelde lone van ”nie-blanke” werkers in die sekondêre nywerhede in die vorige vyf jaar met 5,4% per jaar gestyg het (teenoor 3,7% vir wittes). Vir hom het dit verduidelik waarom die land ”soveel bestendiger is as wat baie mense graag wil glo”.

Die webwerf voeg by: “Mense dink dat die ekonomiese groei onder apartheid vir swartes min beteken het. Dit is nie waar nie . . . In die twee dekades nadat Verwoerd aan die bewind gekom het, het die besteebare persoonlike inkomste van al die polities ondergeskikte groepe gemiddeld egter vinniger as wittes s’n verbeter (al was dit van ‘n baie lae basis).”

Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika is geredigeer deur Hermann Giliomee en Bernard Mbenga. Dit bevat die insigte en nuwe benaderings van 31 voorste geskiedkundiges tot die storie van hierdie land.

Die ANC het in twintig jaar se tyd nie daarin geslaag op hul eie mense op te hef nie en het blankes boonop laat verarm het. In die BBC berig is ‘n grafiek oor die styging in inkomste in Suid-Afrika en is dit net die Indiërbevolking wat sedert 1993 gebaat het.

Dis teen dié agtergrond wat Kleinfonteiners vandag vir die DA Jeugleier gaan vra hoe sy gaan “demonstrate that diversity and non-racialism can make everyone’s lives better.” Veral die inwoners van Kleinfontein wat net vra om toegelaat te word om rustig as ‘n kultuurgroep te kan bestaan ingevolge die Grondwet van Suid-Afrika en wat niemand bedreig of intimideer nie.

Kleinfonteiners verenig in gebed

‘n Groepie Kleinfonteiners het vanoggend vroeg in die Gemeenskapsaal byeengekom en die Here se leiding en beskerming vandag oor Kleinfontein en sy mense van Hom afgebid. Die tema van die gebede was deurgaans vir vrede en kalmte by almal.

Maak 'n opvolg-bydrae