Petrolbom in hoender-bus: 10 ernstig beseer

Altesaam 10 werknemers van Rainbow Chicken is ernstig beseer toe ‘n petrolbom in die Zinniaville-nywerheidsgebied in Rustenburg na die bus geslinger is waarin hulle gery het, het die polisie Woensdag gesê.

‘n Groep mense, na bewering stakende werkers van Rainbow Chicken, het ‘n petrolbom na die bus geslinger.

Die bus het glo Dinsdagaand 63 Rainbow-werkers na Kroondal vervoer, het kapt. Philani Mvuna gesê.

“In hierdie stadium glo die polisie die aanval kan verbind word met die voortslepende stakings by Rainbow Chicken.”

‘n Saak van poging tot moord en kwaadwillige saakbeskadiging is geopen. Teen Woensdagmiddag was niemand al in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Verlede maand het 1 857 werkers van Rainbow Chicken wat met die Food and Allied Workers’ Union geaffilieer is, by die Rustenburg-aanleg gestaak.

Hulle wou ‘n maandelikse loonverhoging van R700 hê, sowel as beter werkomstandighede, het die vakbond gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae