Politieke inmenging vernietig Afrikaans

“Die Vryheidsfront Plus maak ernstige beswaar teen die politieke inmenging van die ANC-regering by universiteite aangesien dit standaarde verlaag,” sê mnr. Pieter Groenewald, parlementêre leier van die Vryheidsfront Plus.

Mnr. Groenewald het vandag tydens die parlementêre begrotingsdebat oor hoër onderwys en opleiding ook ‘n skerp aanval gedoen op die minister van hoër onderwys, mnr. Blade Nzimande, en daarop gewys hoe Afrikaans uit die hoër onderwysstelsel gerangeer word.

“Die VF Plus wil hê die standaarde by ons universiteite moet van so aard wees dat dit internasionaal erken word. Hoe is dit moontlik as ‘n instelling soos die universiteit van Kaapstad verskillende toelatingsvereistes vir mediese studente het?

“Vir wittes is die vereiste persentasie 90%. Vir Indiërs is dit 85%, en vir swart studente slegs 72%. Dit is ernstige politieke inmenging. Die enigste standaard wat gebruik moet word, is dié van die internasionale wetenskap.

“Die inmenging verlaag standaarde en is in werklikheid ‘n belediging vir swart graduandi,” het mnr. Groenewald gesê.

Oor die verdwyning van Afrikaans by universiteite het mnr. Groenewald die minister met Lord Milner vergelyk en gesê hy wil ook hê Engels moet die enigste taal wees.

Hy het gevra of die minister ‘n ‘probleem’ het met Afrikaans en het daarop gewys dat daar in 1994 22 universiteite in Suid-Afrika was waarvan sewe Afrikaans was.

“Tans is daar vyf dubbelmedium-universiteite en nog net twee wat oorwegend Afrikaans is. Nie eens ten volle Afrikaans nie. U wil ook hê dit moet Engels, Engels, alles Engels wees,” het mnr. Groenewald aan min. Nzimande gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae