Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het Donderdag gelas dat die Guptas se privaatstraler van die Waterkloof-lugmagbasis verwyder word.
“Die goedkeuring moet teruggetrek word en die vliegtuig moet onmiddellik verwyder word,” het die minister in ‘n verklaring gesê.
Mapisa-Nqakula het verder gevra dat ‘n ondersoek gedoen moet word oor hoekom die lugmag genader is met ‘n versoek om die lugmagbasis te gebruik.
Sy is tydens haar besoek aan Ethiopië in kennis gestel oor die mediaberigte. Toe sy Woensdag terugkeer, het sy gevra dat die weermag haar inlig oor wat gebeur het.
Mapisa-Nqakula het gesê die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het die Indiese hoëkommissariaat se versoek vir die gebruik van die lugmagbasis toegestaan.
“Die lugmag het dus die versoek hanteer as ‘n gewone proses wat nog altyd van toepassing was wanneer die departement so ‘n besluit neem.”
‘n Verteenwoordiger van die Guptas se Sahara-rekenaars het aanvanklik die departement van verdediging genader om hulp met die Indiese hoëkommissariaat se versoek vir die gebruik van die lugmagbasis.
“Die versoek om hulpverlening is verwerp en omdat dit nie geformaliseer is nie, het die ministerie die kwessie as afgehandel beskou. Ons het aan hulle gesê die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika sal hulle kan help.”
Die minister het gesê diplomatieke kanale by die departement van internasionale betrekkinge is toe gebruik om die gebruik van die lugmagbasis te verseker.
Die kantoor van die hoof van staatsprotokol het die hoëkommissariaat se versoek hanteer sonder om die hoofde van die weermag, lugmag of die ministerie van verdediging te nader.
“Die ministerie van verdediging sou nooit so ‘n versoek goedkeur nie,” het sy gesê.
Ambassadeur Bruce Koloane, hoof van staatsprotokol, is Donderdag deur die departement van internasionale betrekkinge en samewerking geskors ná ‘n voorlopige verslag van die Gupta-familie se landing by die Waterkloof-lugmagbasis.
‘n Private straler van die Gupta-familie het vroeër die week by die lugmagbasis geland voor ‘n troue van die familie by Sun City.
Die Gupta-familie, wat The New Age-koerant en Sahara-renekaars besit, vier die bruilof van die 23-jarige Vega Gupta en die Indies-gebore Aaskash Jahajgarhia by Sun City.
