Waar’s die Indiërgaste se visums?

Die Vryheidsfront Plus wil op ‘n dringende basis van die minister van Binnelandse Sake weet of die byna 200 gaste van die Guptas tydens hulle aankoms op die Waterkloof-Lugmagbasis oor die nodige visums beskik het om Suid-Afrika te besoek.

Volgens dr. Corné Mulder, die VF Plus se woordvoerder oor binnelandse sake, moet besoekers vanuit Indië aan Suid-Afrika wat die land vir ‘n periode van 30 dae of minder, of selfs 90 dae of minder besoek, ingevolge die wet oor die nodige visums beskik wat by die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissaris in Indië uitgereik moet word.

“Die VF Plus wil ook van die minister weet of die paspoorte en reisdokumentasie van die gaste behoorlik tydens hulle aankoms op die Waterkloof-Lugmagbasis geprosesseer is. Indien die byna 200 gaste van die Guptas oor die nodige visums beskik het, moes die departement van Binnelandse Sake bewus gewees het van hulle koms.

“Ons wil ook van die minister weet of amptenare van die departement van Binnelandse Sake spesiaal na die Waterkloof -Lugmagbasis gestuur is om die aankoms van die Gupta-gaste te hanteer.

“Die publiek van Suid-Afrika is daarop geregtig om dadelik te weet of hierdie persone tans wettig, of onwettig binne Suid-Afrika is. Die VF Plus gaan vandag vrae stel in die parlement aan die minister van Binnelandse Sake om antwoorde hieroor te verkry,” sê dr. Mulder.

Maak 'n opvolg-bydrae