Die minister van verdediging, me. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, moet antwoorde verskaf hoekom die Waterkloof-lugmagbasis beskikbaar gestel is vir die Gupta-familie en of hulle die kostes vir die gebruik van die lughawe gaan betaal en wat dit beloop, sê mnr. Pieter Groenewald, die Vryheidsfront Plus se hoofwoordvoerder oor verdediging.
Volgens mnr. Groenewald is die verskoning dat die Lanseria-lughawe nie geskik is vir die Guptas se vliegtuig nie, onverskoonbaar aangesien die Mafeking-lughawe nader aan Sun City is en beslis geskik is vir groot vliegtuie.
“Dit wil voorkom asof die weermag agteroor buig om die Guptas, wat bekend is vir hul ondersteuning en finansiering van die ANC, ter wille te wees.
“Wanneer die weermag en die polisie misbruik word vir persoonlike gewin, dan bevorder dit korrupsie en die misbruik van belastingbetalers se geld.
“Die minister van polisie, mnr. Nathi Mthethwa, moet ook verduidelik hoekom die polisie gebruik is vir die begeleiding van die Guptas se vriende en of die kostes betaal sal word uit die staatskas.
“Dit is totaal onaanvaarbaar dat die gewone publiek in spitstye ontwrig word en dat die belastingbetalers se geld gebruik word om dit so gerieflik moontlik te maak vir die Guptas se gaste om ‘n bruilof by te woon,” sê mnr. Groenewald.
Hy sê die VF Plus sal amptelike vrae in die parlement hieroor vra.
