Diegene wat ‘n straler van die Gupta-familie toegelaat het om by die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria te land moet tot verantwoording geroep word, het die SAKP Woensdag gesê.
“Die vliegtuig het ons nasionale veiligheid in gedrang gebring,” het Solly Mapaila, mede-adjunkpresident van die SAKP, by ‘n Cosatu-byeenkoms in Sharpeville, Gauteng gesê.
“Ons wil hê diegene wat dit gedoen het, moet tot verantwoording geroep word. Hierdie is ‘n ernstige misbruik… van die regering se hulpbronne.”
Patrick Craven, woordvoerder vir Cosatu, het Woensdag ook in ‘n verklaring gesê Suid-Afrikaners voel beledig deur die Gupta-familie se beweerde misbruik van die regering se hulpbronne.
“Dis ‘n absolute belediging vir die mense van Suid-Afrika dat private individue ‘n openbare fasiliteit kan gebruik vir hulle sosiale aktiwiteite en dat staatsamptenare hulle vergesel,” het hy gesê.
Die weermag was vroeër nie daarvan bewus dat toestemming aan die Gupta-familie gegee is om die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria te gebruik nie, het Siphiwe Dlamini, weermagwoordvoerder, Dinsdag gesê.
“Sover ek weet is geen toestemming aan ‘n private burger gegee om die basis te gebruik nie. Dit is ‘n militêre basis en ‘n nasionale sleutelpunt wat deur die regering en sy gaste gebruik word.”
Die Gupta-familie, wat The New Age-koerant en Sahara Computers besit, sal Vega Gupta (23) en die Indies gebore Aaskash Jahajgarhia se huwelik tussen 1 en 4 Mei by Sun City vier. ‘n Groot private straler vol trougaste het vroeër by die Waterkloof-basis geland om dié seremonie by te woon.
Die Guptas het vroeër Dinsdag gesê beamptes het toestemming gegee dat die vliegtuig daar kon land.
“Waterkloof is gebruik omdat Lanseria-lughawe nie die grootte vliegtuig wat deur die familie gehuur is, kon akkommodeer nie,” het Haranath Ghosh, ‘n woordvoerder vir die Gupta-familie, gesê.
“Toestemming is versoek deur, en gegee aan die Indiese hoë kommissaris, en nie die familie nie,” het hy gesê.
Pogings om dit met die Indiese hoë-kommissaris in Pretoria te bevestig, was onsuksesvol. Die SAKP het gesê Suid-Afrika se nasionale sleutelpunte is nie die speelplek vir die wêreld se rykes is nie.
