‘Goeie ding dat wêreld Mandela se toestand sien’

Die mees onlangse beeldmateriaal van oudpres. Nelson Mandela was die regte ding om te doen, want die wêreld het nodig gehad om hom te sien, het die ANC Dinsdag gesê.

“Diegene wat kla dat die jongste beeldmateriaal van Madiba ‘n publisiteitsfoefie deur die ANC is… dis net suur druiwe. Ons is bly ons het Madiba met die wêreld gedeel, selfs in sy brose toestand,” het Jackson Mthembu, woordvoerder vir die party, gesê.

Beeldmateriaal van oudpres. Mandela wat uitdrukkingloos in ‘n stoel sit met ‘n kombers oor sy bene terwyl ANC-leiers hom by sy huis in Houghton, Johannesburg besoek, is deur die SABC uitgesaai.

Pres. Jacob Zuma, Cyril Ramaphosa, Baleka Mbete en sy mediese span was ook by hom.

Zuma het aan die openbare uitsaaier gesê Mandela is “in ‘n goeie toestand” ná hy vroeër die maand uit ‘n hospitaal ontslaan is, waar hy behandeling ontvang het vir ‘n longinfeksie.

“Ons mense het Madiba jare laas gesien. Nou het hulle gesien hoe hy sy oë oop- en toemaak…. Ons is tevrede met sy gesondheidstoestand. Hy is nie meer ‘n jong man nie,” het Mthembu gesê.

Hy het gesê die ANC het nét die SABC uitgenooi om te voorkom “dat Mandela ongemaklik voel”.

“Ons het nie die hele span uitgenooi nie, want ons gee om vir Madiba. Die SABC het selfs die beeldmateriaal met ander uitsaaiers gedeel. Dit was in die openbare belang.”

Die beeldmateriaal het veral op sosiale netwerke fel kritiek ontlok, en baie kykers het gevoel Mandela se waardigheid is deur die uitsending aangetas.

Maak 'n opvolg-bydrae