PAC wil Gautrein brand

Betogers het gister in Pretoria gedreig om Gautrein-waens aan die brand te steek as die Metrorail-diens in die hoofstad nie dadelik opgekap word nie.

Albert Mokoena, ‘n woordvoerder van die oproermakers, het gesê hulle eise moet voor 28 Maart aangespreek word.

“Ons het almal besluit dat dit nie vir ons goed is om ons eie treine (Metrorail-treine) aan die brand te steek nie.

“Ons gaan die Gautrein brand,” het hy buite die Bosmanstraat-stasie gesê.

Hy het ‘n memorandum aan Maria du Toit, adjunk-direkteur-generaal van vervoer, oorhandig.

Hy het aan haar gesê hulle beplan drastiese stappe.

“Ek weet ek is op rekord en ek doen dit met opset. Dit is nutteloos om ons eiendom te verbrand. Maar daardie Gautrein is nie vir ons nie; dis die ryk mense se trein.”

Omstanders het Mokoena, streeksekretaris van die PAC se Tshwane-tak, met luide toegejuig begroet.

Hy sê die departement net nie behoorlike navorsing gedoen oor die behoeftes van Suid-Afrikaners met die bou van die Gautrein nie. Die Gautrein bedien volgens hom nie die meerderheid mense nie.

“Daardie beleggings in die Gautrein help ons nie. Dis nie  dreigemente nie, ek gebruik politieke taal. Ons sal daardie mooi treine verbrand wat Engels binne praat.”

Metrorail-treine is volgens pendelaars stampvol, onveilig en vuil.

Du Toit het onderneem om “die uitdagings in die memorandum persoonlik te ondersoek” en om dit onder die minister (Ben Martins) se aandag te bring.

“Ek wil nie enige treine sien brand nie. Nie van Metrorail of Gautrein nie,” het sy gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae