Werkers het by Anglo American se Kleinkopje-steenkoolmyn begin staak terwyl die arbeidsonrus in die sektor uitbrei.
Dit volg na onwettige stakings by vyf myne wat aan die mynreus Exxaro behoort. Beleggers is bekommerd dat dit ‘n herhaling is van betogings wat die ekonomie verlede jaar geskud het.
‘n Woordvoerder van Anglo American, Moeketsi Mofokeng, sê die maatskappy is in gesprek met die NUM om die geskil op te los. ‘n Langdurige onderbreking by Anglo en Exxaro se myne kan die reeds wankelende kragverskaffing in die land verder knou.
Die rand het tot R8.18 teenoor die dollar teruggesak terwyl die nuus oor die stakings beleggers verder ontstel het.
Die rand het ook tot sy laagste vlak in vier jaar teen die dollar gedaal nadat data getoon het dat daar ‘n groter as verwagte tekort in die lopende rekening is, wat druk uitoefen op Suid-Afrika om meer beleggings te trek.
Die tekort op die lopende rekening het verlede jaar tot ‘n rekord R197 miljard opgeskiet.
