Moslem-moord: Borg geweier

‘n Man wat daarvan aangekla word dat hy ‘n Moslem verlede jaar doodgeslaan het, is in die Krugersdorp-streekhof borgtog geweier.

“Die applikant kon nie aan die hof bewys dat dit in belang van geregtigheid sal wees om hom op borgtog vry te laat nie. Borgtog is dus geweier,” het landdros Reginald Dama tydens Roedolf Viviers se borgtogaansoek gesê.

Viviers (28) en Zayne van Tonder (33) is daarvan aangekla dat hy Muhammad Fayaaz Kazi op 6 Augustus buite ‘n Chicken Licken-kitskosrestaurant in Magaliesburg doodgeslaan het.

Kazi het die mans glo gekonfronteer nadat hulle hom na bewering oor sy baard gespot en hom beledig het.

‘n Geveg het toe uitgebreek, en Kazi het later aan sy beserings in die hospitaal beswyk.

Die aanklagte teen Van Tonder is later teruggetrek en hy is vrygelaat.

Kazi se broers, Mohammed Nuaman (22) en Mohammed Farhan (18) het gesê “prys Allah” toe Dama sy beslissing gemaak het.

Sy weduwee, Sajidah, het in trane uitgebars en vriende en familie in die openbare galery omhels.

Viviers se verhoor sal op 4 Maart in die Johannesburgse hooggeregshof begin.

Maak 'n opvolg-bydrae