“Die president se staatsrede was net ‘n herhaling van ou mislukte ANC beleidsrigtings. Hierdie oplossings slaag reeds vir negentienjaar nie daarin om Suid-Afrika se ernstige probleme van werkloosheid, korrupsie, swak ekonomiese groei en nuwe beleggings op te los nie,” het dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier gesê. Dr. Mulder het deelgeneem aan die debat in die parlement oor die President se staatsrede.
“Om dieselfde fout oor en oor te maak en dan te verwag dat jy ‘n ander resultaat gaan kry, is gelyk aan malheid,” het Albert Einstein gesê. Dit is presies wat die afgelope negentien jaar in Suid-Afrika gebeur. Daar moet vars en nuwe planne kom om hierdie probleme op te los.
Minister Nkwinti se aankondiging dat grondeise voor 1913 heropen word, veroorsaak groot nuwe onsekerheid in die landbou gemeenskap.
“Waarom word so ‘n aankondiging gemaak voor al die detail deurdink is? Slegs die volledige detail, wat nou nie gestel word nie, kan al die onsekerhede en vals verwagtinge uit die weg ruim. Die Khoi en San wil weet of hulle grond kan terugeis tot 1200 toe hulle in die hele Suid-Afrika teenwoordig was. Daar is San-tekeninge in die Drakensberge, in Zoeloeland by Nkandla en waar Kaapstad vandag staan. Kan hulle dit alles eis?” het dr. Mulder gevra.
Die Vryheidsfront Plus glo dat die huidige arbeidswetgewing gewysig word want hulle ontmoedig werkgewers om nuwe werk te skep. Die arbeidswette beskerm lede van vakbonde ten koste van die werkloses.
Dr. Mulder het na die goeie verhouding verwys wat tussen Dinuzulu die Zoeloekoning en Louis Botha as Eerste Minister bestaan het.
“Elke keer as ek in Pretoria verby die straatnaamveranderinge ry en ek sien hoe die ANC ‘n rooi streep deur Louis Botha se naam getrek het, is ek opnuut kwaad. Ek beleef dit as die miskenning van my helde en van die Suid-Afrikaanse geskiedenis,” volgens Mulder.
