In ‘n ongewone opwelling van optimisme, het die Europese Unie Zimbabwe se politieke hervorming geprys en sanksies teen top-Zanu-PF-lede opgehef.
Zanu is egter steeds kwaad omdat hulle nie al die sanksies opgehef het nie. Die meeste ontleders kan daarbenewens nie heeltemal mooi begryp waarom die EU skielik so bemoedig voel nie.
Lede van die Europese Unie se buitelandse sake Raad het Maandag in Brussel besluit sanksies teen Zanu-PF en Robert Mugabe se bewind moet hersien word. “Die EU verwelkom die ooreenkoms wat bereik is deur die politieke partye in Zimbabwe oor ‘n ontwerp-grondwet en die aankondiging van ‘n referendum,” lui ‘n verklaring wat vrygestel is deur die raad. “Hierdie is ‘n stap vorentoe in die implementering van die globale politieke ooreenkoms en voeg verdere momentum aan die hervormingsproses wat die weg baan vir die hou van vreedsame, deursigtige en geloofwaardige verkiesings.”
Tog, in Zimbabwe, is die nuus nie met entoesiasme begroet nie. Terwyl Morgan Tsvangirai se Beweging vir Demokratiese Verandering die gedeeltelike opheffing van sanksies as ‘n welkome gebaar sien, het Zanu-PF se woordvoerder Rugare Gumbo ontsteld gereageer oor Europa se voortgesette betrokkenheid: “Ons glo die huidige skuif […] is bedoel om die belange van die lande wat ruwe diamante uit ons myne haal, te dien.”
Lindiwe Zulu, President Jacob Zuma se internasionale betrekkinge adviseur en leier van die Suid-Afrikaanse span wat die fasilitering lei, het die Zanu-PF-posisie meer diplomaties herhaal. Zulu gesê die EU moet sanksies heeltemal ophef, en Suid-Afrika ondersteun nie die EU se geleidelike benadering nie.
Die skeptici wat Europa se motiewe bevraagteken, let op dat België gevra het dat die staatsbeheerde Zimbabwe Mining Development Corporation van die sanksielys verwyder moet word, sodat Zimbabwe met die uitvoer van diamante en goud kan voortgaan.
Ander meen egter dat veral die berugte Marange diamantveld ‘n sentrale rol speel in die ondersteuning van Zanu-PF se heerskappy.
Onteiende Zimbabwiese boere van JusticeZimababwe meen sanksies moet volgehou word: “Ons glo dat vandag se besluit [van die EU om sanksies gedeeltelik op te hef] om Mugabe te beloon in reaksie op niks, hierdie gedrag sal vererger.”
Die Europese Unie is weliswaar ‘n bietjie oor-optimisties met hul bemoedigende assessering van Zimbabwe se vordering:
Daar het nie veel gebeur met die politieke hervormingsproses in Zimbabwe nie. Polisieklopjagte en intimidasie duur steeds onverpoos voort, met die verskil dat die koerante moeg geraak het om daaroor verslag te doen.
Die onverwagse besluit het dus geen positiewe sentimente jeens die EU gaande gemaak nie, nie van enige van die betrokkenes nie.
