Die anonieme Amerikaanse seesoldaat wat Osama bin Laden doodgeskiet het, het in ‘n onderhoud met Esquire-tydskrif vertel hoe hy drie skote na die Al-Kaïda-leier se kop gevuur het.
Alhoewel besonderhede reeds in boeke en onderhoude bekend geword het, is min nog gehoor van die man wat die noodlottige skote gevuur het. Die hele span het gevra dat hul identiteite beskerm word om hulle teen aanvalle te beskerm.
Die man, wat in die artikel slegs as die “skieter” geïdentifiseer is, het intussen vrywillig uit die vloot bedank voordat hy vir aftrede gekwalifiseer het. Hy het verduidelik dat hy sonder ‘n pensioen en mediese fonds oor die weg moet kom, en sukkel om aan maniere te dink om ‘n bestaan te maak.
In die onderhoud vertel die skieter hoe die SEAL Team 6, ST6, op 2 Mei 2011 deur die huis in Abbottabad, Pakistan, beweeg het waar Bin Laden na bewering was. Hulle het mense soos hulle deur die huis beweeg het, geskiet, totdat hulle die Al-Kaïda-leier se slaapkamer op ‘n boonste verdieping bereik het.
Toe hy en ‘n kollega die slaapkamer bereik, het die res na ander kamers beweeg.
“Teen daardie tyd het ons besef ons kry nie meer ouens nie. Ons moes beweeg, want bin Laden gaan ‘n wapen gryp want daar gaan op hom geskiet word,” het hy verduidelik.
Hulle was bekommerd dat twee vroue in die omtrek moontlik selfmoordbombaadjies kon aanhê. Een van sy kollegas het hulle vasgehou terwyl die skieter by die donker kamer ingegaan het.
Die soldate het nagvisie-brille gedra en die skieter het die figuur wat nadergekom het as Bin Laden geïdentifiseer.
“Hy het sy hande op ‘n vrou se skouers gehad en hy het haar vorentoe gestoot, nie regtig na my toe nie, maar in die rigting van die rumoer in die gang,” het die skieter gesê.
Hy het gesê bin Laden het “deurmekaar” gelyk en hy was “baie langer” as wat hy verwag het, met sy hare wat byna heeltemal afgeskeer was. Toe dit lyk of bin Laden sy hand uitsteek na ‘n vuurwapen, het die skieter besluit hy moet reageer.
“Op daardie oomblik het ek hom geskiet, twee keer in die voorkop. Bap! bap! Die tweede keer terwyl hy geval het. Hy het voor sy bed op die grond inmekaargesak en toe tref ek hom weer. Bap! Selfde plek.
“Hy was dood. Hy’t nie beweeg nie. Sy tong het uitgesteek.
“Ek het gesien hoe hy die laaste keer asem haal, net ‘n refleks-asemhaling. En ek onthou toe ek kyk hoe hy sy laaste asem uitblaas, het ek gedink: Is hierdie die beste ding wat ek nog ooit gedoen het, of die slegste ding wat ek nog ooit gedoen het? Hierdie is werklik en dit is hy.”
Die skieter het na die tyd besef dat Bin Laden se jongste seun, wat twee of drie jaar oud was, aan die ander kant van die bed gestaan het.
“Ek wou hom nie seermaak nie, want ek is nie ‘n barbaar nie. Daar was ‘n hewige gegillery, hy het gehuil, net in skok… Ek het hom opgetel en langs sy ma neergesit. Ek het ‘n bietjie water op sy gesig gesit.”
