Suid-Afrika moet die herdenking van oudpres. Nelson Mandela se vrylating uit die tronk Maandag vier deur sy visie vir die land te onthou, het die DA gesê.
“Ons moet nooit die wonderlike visie van die toekoms en die grondwet vergeet wat hy aan ons gegee het nie en wat vandag sy grootse nalatenskap is,” het Helen Zille, leier van die DA, in ‘n verklaring gesê.
Sy het gesê Suid-Afrikaners moet hulle weer daartoe verbind om Mandela se visie van ‘n verenigde land te herbou deur ‘n einde te bring aan die “verval” wat volgens haar deur die huidige leierskap geskep is.
“Elke Suid-Afrikaner weet dat ons land ver weg beweeg van Madiba se visie van ‘n vredevolle, voorspoedige demokrasie waar elke persoon die geleentheid het om sy potensiaal te bereik,” het Zille gesê.
Volgens Zille deel pres. Jacob Zuma en die huidige leierskap nie daardie visie nie.
Sy het hulle ook daarvan beskuldig dat hulle nie die nodige belangstelling het om probleme soos armoede, werkloosheid en die vernietiging van families op te los nie.
Zuma het Mandela Sondag in Johannesburg besoek om goeie wense aan hom oor te dra.
Hy het gesê Mandela was gemaklik en ontspanne.
Mandela is in Februarie 1990 uit die Victor Verster-gevangenis in Paarl vrygelaat.
