Oor iemand soos Desmond Tutu kan ek nie roem nie. Ek het die “bevrydingstryd” meegemaak en kennis geneem van hoe Tutu die gepeupel onophoudelik tot onrus opgestook het. Ook hoe hy nooit die geweld wat uit sy opsweping gespruit het, veroordeel het nie. Tutu is, soos Nelson Mandela, ‘n aartsvader van die geweldskultuur wat al hoe meer skrikwekkende afmetings aanneem. Dit maak seker van hulle geskikte ontvangers van die Nobel-vredesprys. Dit herinner aan Thomas Carlyle wat in sy inleiding tot Goethe se outobiografie verwys na “Galgacus’s Romans, who ‘called it peace when they had made a desert.'”
Tutu het Suid-Afrika groot verliese aangedoen deur handelsboikotte te bepleit. Soos sy mede-“vryheidsvegters” het hy nog nie ‘n sent terugbetaal van die skade wat hy aangerig het nie. Enigeen kan sy geheue verfris, of beter oor Tutu se manewales ingelig word, deur die omvattende biografie van John Allen, Rabble-Rouser for Peace: The authorised biography of Desmond Tutu (London: Rider, 2006, 484p), te lees. Sowel Tutu as Mandela is integrerend deel van die lang arm van onreg in die nuwe Suid-Afrika.
Ek skryf na aanleiding van ‘n berig deur Tutu wat op 3 deser in Rapport gepubliseer is. Daarin loof Tutu die miljardêr-sakeman Patrice Motsepe, wat aangekondig het dat hy die helfte van die inkomste uit sy familiebates “aan die ontwikkeling van ons land se mense gaan bestee.” Volgens Tutu is dit ‘n teken van hoop vir die oorbruging van die groeiende gaping tussen ryk en arm. Voorspelbaar skryf Tutu hierdie wanbalans toe aan apartheid.
Daarna verwys Tutu heel ingenome na sy toespraak op Stellenbosch waarin hy ‘n welvaartbelasting voorgestel het. Wat hy doelbewus versuim om hierdie rondte te noem, is dat hy uitsluitlik wittes op hierdie manier wou belas. Sy redenasie was dat alle wittes uit apartheid voordeel getrek het, gevolglik moet net hulle ekstra belas word. In haar rubriek (Die Burger, 16.08.2011, p 14) het Rhoda Kadalie Tutu se voorstel sonder omhaal van woorde “rassisties” genoem. Sy het daarop gewys dat “wittes reeds die swaarste belastinglas in Suid-Afrika dra.” Daarteenoor verwys sy na “ons swart elite wat hulle met afstootlike welbehae in hul onregmatig verkreë rykdom verlustig.”
Dit is onder die leiding van en danksy die inisiatief, kundigheid en toewyding van blankes dat hierdie land oor meer as drie eeue ontwikkel is. In hierdie hele tydperk was dit hoofsaaklik blankes wat die belastinglas gedra het. Ubuntu het in die praktyk beteken dat veral een etniese groep, die wittes, gegee en die ander etniese groepe ontvang het. In die nuwe Suid-Afrika het sommige swartes as sogenaamde voorheen benadeeldes weens rasgebaseerde bemagtiging, bevoordeling, regstelling, ens, feitlik oornag met min inspanning stinkryk geword. Dit verklaar waarskynlik minstens ten dele die ontsaglike rykdom wat Motsepe in ‘n kort tyd vergaar het. Met die Oppenheimers en Ruperts is dit anders gesteld; hulle het hulle rykdom in moeilike omstandighede en met harde werk oor geslagte versamel.
Tutu se jongste skrywe dui op vordering. Hy besef nou dat nie net wittes vir welvaartbelasting uitgesonder moet word nie, maar ook swart neo-rykes. Maar sulke swart rykes kom nie net in die privaatsektor, bv die handel en nywerheid, voor nie. Regeringsbesteding is waarskynlik die grootste bron, hetsy wettig of onwettig, van kitsrykdom by swartes. Kadalie verwys byvoorbeeld na die “reuse vergoedingspakkette” wat lede van die Waarheids- en Versoeningskommissie ontvang het. Op grond hiervan behoort Tutu een van die rykes te wees wat welvaartbelasting ten behoewe van “ons land se mense” betaal.
Hoeveel sensitiwiteit is daar werklik by Tutu oor die gaping tussen sy rykdom en dié van die armes? Allen verwys na die keer toe Tutu, sy vrou en twee van sy kinders in die peperduur Concorde oor die Atlantiese Oseaan gevlieg het. Daarna het hulle na Suid-Afrika gevlieg. Tutu vlieg graag eersteklas (p 232). Na hulle aankoms het Tutu hom soos volg oor sy Nobel-vredesprys uitgelaat: “Tutu … accepted the award especially on behalf of ‘those who are called the little people – the ones whose noses are rubbed in the dust every day. This award is for mothers, who sit at railway stations to try to eke out an existence, selling potatoes, selling mealies, selling produce. This award is for you, fathers, sitting in a single-sex hostel, separated from your children for 11 months a year … This award is for you, mothers in the KTC squatter camp [Cape Town], whose shelters are destroyed callously every day, and who sit on soaking mattresses in the winter rain, holding whimpering babies … This award is for you, the 3.5 million of our people who have been uprooted and dumped as if you were rubbish'” (p 213).
‘n Mens moet darem ‘n dik vel hê om met sulke uitlatings na ‘n duur oorsese reis van vier mense, insluitende ‘n Concorde-vlug, vorendag te kom. Tutu was deurgaans bekend of berug vir sy weelderige lewenstyl. As hy minder gerief of voordele vir homself gegun het, kon hy baie geld na die armes gekanaliseer het. Die lot van armes het sedert die koms van die nuwe Suid-Afrika nie wesenlik verbeter nie. Tutu het hulle mislei. In 1989 het hy triomfantelik verklaar: “Come and see what this country is going to become” (p 311). In 1993 was Tutu se deuntjie: “South Africa was marching to victory, he repeated again and again, ‘the victory of light over the darkness of apartheid … the victory of life over the death of apartheid … the victory of goodness over the evil of apartheid … God is on our side!'” (p 334-335). Oor “elderly women … treated as nonentities by their white employers” het Tutu gesê: “To allow such people to suffer was not simply wrong; it was blasphemous, ‘for it is to spit in the face of God'” (p 395). Inkatha het Tutu myns insiens tereg ‘n “political opportunist” genoem (p 318).
Ook in hierdie opsig het Tutu wyser geword. In sy jongste skrywe verwys Tutu na die “groot aantal Suid-Afrikaners [wat] steeds in haglike omstandighede lewe. Babas sterf aan voorkombare siektes. Kinders gaan honger skool toe. Volwassenes wat broodwinners moet wees, het nie werk nie. Te veel Suid-Afrikaners het ‘n punt van desperaatheid en vernedering bereik. Hulle wag vir die regering om die vrugte van vryheid aan te dra, maar stik aan ‘n daaglikse dieet van bewerings van korrupsie en wanbestuur.” Vergelyk Tutu se 1976-dreigement oor desperaatheid: “I reiterate this warning … desperate people will be compelled to use desperate means” (p 153).
Tutu veroordeel wittes maklik en hy loof swartes graag. Vandaar die loflied vir Motsepe. Tutu gebruik hierdie gebeurtenis as ‘n springplank om verdere skenkings uit welgesteldes te ontlok. Hierdie strategie kom van ver af. In sy jeug het Tutu, volgens Allen, geldelike skenkings van die Rockefellers (p 81) en die Oppenheimers (p 62-63) ontvang. “Tutu had as little hesitation now in asking people for money as he had when he wanted to go to theological college. Leah [sy vrou] often joked that he was a professional beggar” (p 241). Maar dit gaan by Tutu blykbaar deurgaans om ander mense se geld. Van ander mense word verwag dat hulle filantropies moet wees. Byvoorbeeld, in 1993 Tutu “called for the African continent’s foreign debt to be scrapped” (p 377).
Tutu het sy jongste skrywe waarskynlik aangebied vir publikasie. Hy het al talle kere belowe om uit die openbare lewe te tree. Maar hierdie publisiteitsoeker doen dit nie. Waar hy ook al optree, word die pers vooraf ingelig. Daarna volg meesal gunstige publisiteit in die vorm van teks en foto’s. Allen maak tereg melding van Tutu se “enjoyment of the limelight” (p 391) en “he loved to be loved” (p 391). Selfs Thabo Mbeki het Tutu ‘n “populist” genoem (p 393).
