‘n Man wat eers R750 per maand verdien het, is nou ‘n multimiljoenêr.
‘n 54-jarige man van KwaZulu-Natal het in die Lotto-trekking van 19 Januarie bykans R6,5 miljoen gewen met sy R20-kaartjie, het Thembi Tulwana, woordvoerder vir die nasionale lotery-operateur Gidani, Woensdag gesê.
Nadat hy verneem het hy het gewen, het die man, wat normaalweg ‘n inkomste verdien deur los werkies te verrig, die kaartjie in sy skoen weggesteek.
Die eerste persoon wat hy daarvan vertel het, was sy neef.
Hy het aan Lotto-amptenare gesê hy wil sy beskeie lewenswyse behou en ‘n huis vir sy kinders bou.
Volgens hom het hy gedroom dat hy eendag die Lotto sou wen en dat hy altyd dieselfde nommers gespeel het.
‘n Tweede wenner in dieselfde trekking het nog nie vore gekom nie.
Die wennommers was 7, 15, 23, 28, 29, 49 en die bonus-bal was nr. 2.
Die Lotto-plus se wennommers was 13, 18, 23, 27, 32, 46 en die bonus-bal was nr. 22.
