Die CIA het ‘n wêreldwye program van stapel gestuur na 9/11 om vermeende lede van Al-Kaïda aan te hou sonder verhoor en te martel. Suid-Afrika was onder dié wat hul samewerking verleen het met die onwettige aanhouding en uitlewering van beweerde terroriste.
Ten minste 54 lande het aan die onwettige program deelgeneem en 136 mense is geraak deur die program. Suid-Afrika word daarvan beskuldig dat hy twee mense onwettig aan Pakistan uitgelewer het.
‘n Nuwe verslag van die Open Society Justice Initiative het die CIA se poging om marteling uit te kontrakteer in omvattende detail aan die kaak gestel.
Sommige deelnemende lande was amptelike teëstanders, soos Iran en Sirië,wat saam met die CIA die stryd teen terrorisme opgeneem het om hul dissidente uit te lewer. Volgens die hoofondersoeker van die Open Society Amrit Singh, “het die Amerikaanse regering die plaaslike en internasionale reg oortree”.
Die lande sluit in: Afghanistan, Albanië, Algerië, Australië, Oostenryk, Azerbaijan, België, Bosnië-Herzegowina, Kanada, Kroasië, Ciprus, die Tsjeggiese Republiek, Denemarke, Djibouti, Egipte, Ethiopië, Finland, Gambië, Georgia, Duitsland, Griekeland, Hong Kong, Ysland, Indonesië, Iran, Ierland, Italië, Jordanië, Kenia, Libië, Litaue, Masedonië, Malawi, Maleisië, Mauritanië, Marokko, Pakistan, Pole, Portugal, Roemenië, Saoedi- Arabië, Somalië, Suid-Afrika, Spanje, Sri Lanka, Swede, Sirië, Thailand, Turkye, Verenigde Arabiese Emirate, die Verenigde Koninkryk, Uzbekistan, Jemen, en Zimbabwe.
Die gevangenes is buite die VSA aangehou om die land se wetlike verbod op marteling te omseil.
Hulle is in CIA-gevangenisse, bekend as “black sites”, aangehou.
