Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het bevind dat R105 die naaste aanbod is wat minimumlone betref, om werksverliese in die landbousektor te vermy. Arbeiders het voorheen R150 geëis.
Agri SA het egter gewaarsku dat tot 100 000 werkgeleenthede verlore kan gaan.
Suid-Afrikaanse verbruikers sal hulself dus moet regmaak vir aansienlike stygings in kospryse ná Maandag se verhoging in die minimumloon tot R105 vir plaasarbeiders. Die verbruikersprysindeks sal na verwagting met 1,5 persentasiepunte styg.
Mildred Oliphant, minister van arbeid, se aankondiging het skerp kritiek uitgelok. Die voorsitter van AgriSA het die besluit as een van die negatiefste dinge in die Suid-Afrikaanse landbou beskryf.
Hy het gesê ongelukkig gaan permanente werkers, en nie loonarbeiders nie, nadelig daardeur geraak word.
Tony Ehrenreich van Cosatu het die nuwe minimum loon verwelkom. Hy het gesê die grond van diegene wat werkers onnodig afdank, sal in hulle visier wees.
Intussen het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) vetsug as ‘n kwaal onder Suid-Afrikaners uitgesonder. ‘n Derde van vroue is vetsugtig terwyl minder as 10% mans in die land vetsugtig is.
Volgens die SAIRV is 31,8% van swart vroue vetsugtig, terwyl 26,3% van bruin vroue, 22,7% van wit vroue en 21,1% van Indiërvroue met spekrolle sit.
In teenstelling met hierdie statistieke is die persentasie swart mans wat vetsugtig is, die kleinste – 6%. 18% wit mans is oorgewig, 9% Indiërmans en 8% bruin mans.
Die Mediese Navorsingsraad het vroeër dié statistiek vrygestel.
Compass Group Southern Africa, ‘n voedselgroep, het Suid-Afrika in 2011 as die derde vetste ter wêreld uitgewys, naas die VSA en Brittanje.
