Dr. Louis Luyt se dood is ‘n groot verlies vir Suid-Afrika. As sakeman, rugbyadministrateur, Afrikanerleier en politikus het hy deurslaggewende bydraes gemaak.
Dr. Luyt het ‘n reuse rol in Suid-Afrikaanse rugby gespeel tydens die belangrike oorgangstydperk na 1994. Hy het veral nooit die nodige erkenning gekry vir sy belangrike bydrae tot die groot sukses van die Rugbywêreldbeker in 1995 nie.
“In die samesprekings tussen die die VF Plus en dr. Luyt se Federale Alliansie party in 2005 het ek hom as ‘n eerlike persoon wat opreg bekommerd is oor Suid-Afrika se toekoms, ervaar. Die samesprekings het op ‘n suksesvolle samesmelting van die twee party uitgeloop. Waar daar dikwels botsings na so ‘n samesmelting tussen partye en leiers is, het ons hartlik saamgewerk in belang van die groter saak van Suid-Afrika se toekoms,” het dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, gesê.
As getuienis van dr. Luyt se sterk leierseienskappe is sy sake-geskiedenis waar hy homself van niks af opgewerk het tot een van Suid-Afrika se grootste sakemanne.
Die Vryheidsfront Plus spreek hul simpatie uit teenoor die familie van dr. Louis Luyt met sy afsterwe.
