Afrikanervryheid

“Sonder ‘n eie taal, kultuur en identiteit, is enige praatjies oor selfbeskikking, eie skole, universiteite en ander instellings, selfs grondgebied, doodgebore”. Dit is die mening van dr Dan Roodt soos weergegee in die laaste Praag-nuusbrief. Die werk van dr Roodt en Praag is prysenswaardig. Daar is egter ander perspektiewe ten opsigte van die Praag stem peiling oor wat ons wil hê Praag moet doen. Ongeag van die wetenskaplike waardekwalifikasie wat die peiling empiries sal diskwalifiseer dink ek veral aan Feyerabend se siening “anything goes”.  Sonder om uit te brei op Feyerabend se wetenskap navorsings sienings kom dit daarop neer dat peilings van die aard nie ignoreer behoort te word nie en wel wetenskaplike waarde inhoud het.

Die peiling dui duidelik dat die meerderheid van die deelnemers verwag dat Praag meer aktief moet wees by die bereiking van Afrikanerselfbeskikking. Afrikanerselfbeskikking dui uiteraard op politieke selfbeskikking binne konteks van ʼn onafhanklike Afrikanerregering in ʼn soewereine Afrikanerstaat. Die kwessie is al holrug gery maar gegewe die eskalerende politieke, ekonomiese, sosiale en kulturele onstabiliteit in Suid-Afrika, kan ons nie bekostig om die oorlewingsideaal te verwaarloos nie. Dit is nie vreemd dat Praag wegskram van intensiewer aksies ter bereiking van selfbeskikking nie want Praag het reeds sy rol binne taal-en-kultuurverband gevestig.

Tegnies kwalifiseer die Afrikaner in terme van verklarings en deklarasies van die Verenigde Nasies en Internasionale Menseregtkommissie om selfbeskikking te eis. Alhoewel uitsprake van die Internasionale Geregshof inkonsekwent is, word die beginsel van die reg op selfbeskikking wel onderskryf. Alle eise vir selfbeskikking begin by ʼn magsbasis. Politieke partye en organisasies vorm ʼn magsbasis en word gemeet aan die ondersteuning vir die spesifieke groepering.  

Op die stadium blyk dit ʼn nuwe Afrikaner elite sal na vore moet tree om kohesie onder Afrikaners te bewerkstellig, andersins sal die bereiking van selfbeskikking moeilik haalbaar te wees. Afrikaner taal, kultuur en identiteit is reeds gevestig.  Praag speel in die verband ʼn belangrike rol om dit te onderhou en uit te brei.  Dit is egter nie ʼn voorvereiste wat eers ontwikkel moet word alvorens daar gepraat of gedoen word om Afrikaner selfbeskikking te bereik nie. Aspekte soos digitalisering van Afrikaner kultuur en ekonomiese oorlewing is vanselfsprekende aksies.

Die vraag is egter watter organisasie(s) is besig met selfbeskikkingsaksies en wat word bereik. Die gepratery stu voort. Die meerderheid Afrikaners is steeds en toenemend onder die DA sambreel. Kleiner Afrikanerpartye en -organisasies plaas klem op die behoud van Afrikanervolkswaardes. Dit is goed en wel maar die partye reflekteer nie ʼn magsbasis nie. Sonder ʼn magsbasis is alle pogings vir vryheid futiel. Die verskil tussen ʼn Afrikaneparty en die Demokratiese Alliansie is dat die DA op party politieke gronde meeding om die volgende regering van ʼn gedoemde staat te word terwyl die verwagting vir ʼn Afrikanerparty sal wees om hoofsaaklik buite parlementêr aktief te wees om ʼn magsbasis te bou ter bereiking van Afrikaner selfbeskikking.

Mens kan net hoop dat die nuut verrysde Nasionale Strategiese Komitee wel gaan waag en alle aspekte vir Afrikanervryheid sal koördineer en met ʼn werkbare plan en uitvoering daarvan vorendag sal kom. Daar is diepte in Afrikanerkennis en -vaardighede wat substansie aan die vryheidsproses kan gee.

Hoekom wil ons vry wees? Dit is bloot ʼn kwessie van assosiasie. Om op alle terreine eienaarskap en bemanning te hê, van en deur jou eie. Om ʼn Christelik-nasionale waardestelsel te handhaaf, om Afrikaans te praat, om met jou eie te assosieer. Dit kan alleen gebeur in ʼn Afrikanervolkstaat. Dit beteken nie xenofobie of anti-swart of isolasie nie.

Александр Фильчаков Васильевич

Maak 'n opvolg-bydrae