Dié verwikkeling is die jongste deurbraak in die stryd teen Islamitiese rebelle wat uit sleutelvestings in die noorde verdryf word.
Franse valskermsoldate het Islamiete wat probeer vlug het, verhoed, terwyl troepe onder Franse beheer die lughawe ingeneem het.
Timboektoe was ‘n belangrike vesting vir die ekstremiste wat die noorde van die land die afgelope 10 maande beheer.
“Ons beheer die lughawe in Timboektoe,” het ‘n senior beampte van Mali se weermag aan AFP gesê.
“Ons het geen teenstand ervaar nie.”
Kol. Thierry Burkhard, woordvoerder van die Franse weermag, het aan AFP gesê die troepe het in minder as 48 uur beheer geneem oor die gebied langs die kromming van die Niger-rivier, wat tussen Timboektoe en Gao vloei.
Die ekstremiste, wat beheer oor die dorp geneem en vroue gedwing het om hoofbedekkings te dra, het dié wat nie sjariawette wou nakom nie, aangerand en selfs gestenig.
“Ons sal Timboektoe binnekort bevry,” het Laurent Fabius, Frankryk se minister van buitelandse sake, aan die France 2-televisiekanaal gesê.
“Mali word stukkie vir stukkie bevry.”
