ANC veroordeel Sasolburg-geweld

Die ANC het Dinsdag die plundery en geweld tydens ‘n betoging in die Zamdela-woonbuurt in Sasolburg veroordeel.

“Ons grootste bekommernis is die vlak van kriminele bedrywighede wat plaasvind, insluitend die plundery van winkels,” het Jackson Mthembu, woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.

“Dit sal nie net sakebedrywighede in die gebied raak nie, maar ook onskuldige inwoners.”

Die geweld, wat Sondag begin het, is veroorsaak deur planne om die Sasolburg- en Parys-munisipaliteit saam te smelt.

Betogers het Dinsdag probeer om ‘n plaaslike polisiekantoor af te brand en ‘n motor en winkel aan die brand gesteek.

Die polisie moes vir ‘n tweede agtereenvolgende dag rubberkoeëls gebruik om die betogers in bedwang te bring.

Die ANC het die regering en wetstoepassingsagentskappe geprys vir die “spoedige ingryping” en inhegtenisnemings.

“Dit kan nie toegelaat word in ‘n moderne samelewing soos dié waarin ons leef nie. Individue met bymotiewe neem… wat ‘n vreedsame betoging moet wees en maak dit ‘n teelaarde vir kriminaliteit,” het Mthembu gesê.

Richard Baloyi, minister van samewerkende regering, het besluit om die samesmelting van die Sasolburg- en Parys-munisipaliteit in die Vrystaat te laat vaar, berig die SABC.

Inwoners het aangedui dat hulle gelukkig is met Baloyi se besluit dat ‘n taakspan aangestel moet word om die ingewikkelde kwessie van munisipale afbakening aan te spreek.

Dié besluit volg ná dae van gewelddadige betogings in die gebied, veral in die Zamdela-woonbuurt.

Dinsdag het die situasie in die omstrede township-gebied handuit geruk toe die plaaslike polisiekantoor aangeval is. Betogers het ook probeer om ‘n polisievoertuig aan die brand te steek en regeringsamptenare is met Njalas na die toneel gebring.

Die situasie is tans ‘n bietjie rustiger, maar daar is steeds ‘n sterk polisieteenwoordigheid in die gebied, het Mail & Guardian berig.

Die polisie het vroeër versterkings ingeroep om te help om sowat 100 polisiebeamptes, inwoners en joernaliste uit die Sasolburg-polisiekantoor te bevry, berig Times Live.

Beeld berig ‘n man is Dinsdag in die oproer in die Zamdela-Sasolburg-omgewing doodgeskiet, vermoedelik toe ‘n groep oproeriges ‘n winkel in Sasolburg wou plunder. Verskeie mense, waaronder twee joernaliste, is ook in die geweld beseer.

Die polisie het ook aan aan Mail & Guardian bevestig dat die Zamdela-polisiekantoor aan die brand gesteek is. Die plaaslike Telkom-kantoor smeul ook.

Die polisie het ‘n pad, wat lei na die sentrale sakedistrik, versper in ‘n poging om te verhoed dat betogers die dorp betree. Die betogers het probeer om deur die versperring te breek, waarna die polisie rubberkoeëls afgevuur het.

Lede van die openbare orde-polisie het vroeër rubberkoeëls op die betogers gevuur en waterkanonne gebruik in ‘n poging om verdere geweld te verhoed. Polisiehelikopters sirkel oor die gebied en ‘n helikopter is ook gebruik om die minister te vervoer.

Inwoners betoog sedert Sondag oor die samesmelting van die Sasolburg- en Parys-munisipaliteit.

Фильчаков прокурор отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae