Dit wil voorkom asof diensleweringsbetogings in die noord-Vrystaat besig is om te versprei nadat daar gister in twee dorpe voorvalle was.
Op Hennenman moes die burgemeester van Matjhabeng, Sebenzile Ngangelizwe uit die Phomolong stadion onder polisie-begeleiding geneem word toe betogers die burgemeester en sy gevolg met klippe gegooi het.
‘n SAUK-voertuig is ook onder die klippe gesteek. Inwoners het ‘n optog gehou en geëis dat ‘n kliniek gebou word en dat daar afstand van die emmerstelselgrond gedoen word.
In Zamdela by Sasolburg loop die spanning hoog te midde van inwoners wat gisteraand weer paaie versper en bande aan die brand gesteek het.
Die minister van Samewerkende Regering, Richard Baloyi het die gebied gister besoek nadat inwoners tot geweld oorgegaan en die dorp begin plunder het. Minstens 150 mense is in hegtenis geneem.
‘n Aflweringsvoertuig is gekaap en gebruik om ‘n kitsbank oop te breek. Die inwoners betoog teen ‘n voorgestelde samesmelting van munisipaliteite.
Vakbonde het gevra vir die vrylating van stakende werkers wat tydens die gewelddadige staking in verskeie dele van die Wes-Kaap aangekeer is. Hulle sê sommige van die werkers is nou reeds drie weke lank in aanhouding sonder dat hulle om borgtog aansoek gedoen het.
Die vakbond, CSAAWU het ‘n nuuskonferensie buite Kaapstad gehou om sy kommer uit te spreek. ‘n Woordvoerder,Trevor Christians, beweer dat sommige werkers terwyl hulle in aanhouding is mediese sorg ontsê word. ‘n
Polisiewoordvoerder, Andre Traut, sê intussen die wet bepaal dat niemand vir langer as 48 uur aangehou mag word sonder dat hulle in die hof verskyn het nie.
Hy sê klagtes kan gerig word aan die Onafhanklike Polisie-Ondersoekeenheid. Tweehonderd-en drie mense is in hegtenis geneem nadat die staking bykans twee weke gelede hervat is.
