Volgens die koerant het 18 uit 62 leerlinge wat die afgelope ses maande in onafhanklike toetse ondersoek is, positief getoets vir middels wat so gevaarlik is dat dit tot die dood kan lei.
Die koerant berig verder dat anaboliese steroïede so maklik verkrygbaar is dat veral jong rugbyspelers dit op die internet bestel en by hul skole laat aflewer – skynbaar onbewus van die wetlike implikasies en gesondheidsgevare.
Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) het aangekondig meer as 100 skole het al aangedui hulle sal aan die toetsing van leerlinge deelneem.
Deon Gerber, rugbyhoof van Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch, het gesê hoewel die skool nog nie probleme met steroïede gehad het nie sal hy sy hele o.19A-groep stuur om vir verbode middels getoets te word.
Kapt. Paul Ramaloko, nasionale woordvoerder van die Valke, het aan die koerant gesê hulle is bewus van die probleem.
