Mali-konflik eis eerste Brit

Die Britse minister van buitelandse sake, William Hague, het Donderdag bevestig dat ‘n Brit dood is in ‘n aanval op ‘n gasveld in die ooste van Algerië.

Hague het verder gesê enige verband met die krisis in Mali is ‘n verskoning vir “koelbloedige moord”.

“Hoewel ek die dood van ‘n Britse burgerlike kan bevestig, kan ek nie in die stadium bevestig hoeveel mense as gyselaars aangehou word nie,” het hy tydens ‘n besoek aan Sydney gesê. Vroeër is berig dat twee Japannese burgers ook aangehou word.

Al-Kaïda in die Islamitiese Maghreb (AQIM) het vroeër aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar en gesê ses mense is ontvoer,” het BBC News berig.

BP het bevestig dat ‘n gasveld in Algerië, wat hy saam met vennote bestuur, aangeval is.

Sowat 41 buitelanders is ontvoer in ‘n aanval op die In Amenas gasfasiliteit.

VSA en die Europese amptenare het Woensdag gesê dat dat drie Amerikaners ontvoer is, uit ‘n totaal van nege VS-personeel wat werk op die terrein, ‘n gasveld langs die Libiese grens wat bestuur word deur BP, Noorweë se Statoil en die Algerynse energie maatskappy Sonatrach.

Algerië het intussen toestemming aan Frankryk verleen om hulle lugruim te gebruik om lugaanvalle teen die rebelle in Mali te loods. Die Algeryne is bekommerd dat die rebelle vyandig teen hulle eie regering staan sedert die Berberstamme, wat onafhanklikheid van Mali eis, deur die Islamitiese opstand gemarginaliseer is.

Die Berbers eis ook onafhanklikheid van Algerië. Die Berbergebied strek oor verskeie lande, naamlik, Mali, Algerië, Libië en Niger.

Die Franse owerhede, by monde van Jean-Yves Le Drian, die minister van verdediging, het aan RTL bevestig dat hulle “so lank as wat nodig sal wees” in Mali sal bly om die “soewereiniteit van die land as geheel te beskerm”.

Marine Le Pen, van die regse FN-party, het aan dieselfde radiostasie gesê die wapentuig wat die rebelle gebruik in Mali kom waarskynlik van die Franse af ná die vorige president Sarkozy se ywerige deelname aan die NAVO-inval in Libië. Sy het egter die huidige operasie geloof en gesê sy steun president Hollande se optrede.

Dit blyk dat die rebelle met wapens uit Libië bewapen word. Le Drian wou nie bevestig dat daar spesifieke groepe is wat die rebelle ondersteun nie. Hy het gesê die vermoede is daar dat dwelm- en wapenhandel die konflik kan help befonds.

Intussen is die eerste slagoffer van die oorlog in Mali, die helikoptervlieënier Damien Boiteux, met volle eerbewys in Frankryk begrawe.

Bykans 200 Nigeriese soldate sal na verwagting vandag in Mali aankom om te help om teen Islamietiese insypelaars in die noorde van die land te veg. Dit is die eerste groep soldate uit Wes-Afrika wat hulle by die Franse soldate aansluit wat Vrydag met optrede teen die rebelle begin het.

Ingevolge ‘n resolusie van die VN Veiligheidsraad sal sowat 3300 soldate uit die streek in Mali ontplooi word. Tsjad het bevestig dat hy tweeduisend soldate sal stuur. Benin, Ghana, Niger, Senegal, Burkina Faso en Togo het ook onderneem om deel te neem.

President Jacob Zuma en sy Angolese ampsgenoot Jose Eduardo Dos Santos sê hulle wil hê die volgende vergadering van die Afrika-Unie moet aandag skenk aan rebelle-bedrywighede op die vasteland.

Die twee leiers het gister in die Angolese hoofstad samesprekings gevoer. Kommer neem toe onder leiers van die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap oor die toenemende voorkoms van rebellevegters op dele van die vasteland.

Die regerings van onder meer die Demokratiese Republiek van die Kongo, Mali sen die Sentraal Afrikaanse Rebubliek veg tans teen rebelle. Zuma sê dié toestand is kommerwekkend.

 

 

данильченко юрій Харків

Maak 'n opvolg-bydrae