Plaaswerkers in Clanwilliam het ‘n ooreenkoms bereik wat moontlik die staking in die Wes-Kaap tot ‘n einde kan bring, het Cosatu Dinsdag gesê.
“Ons is nou baie nader daaraan om die geskil eersdaags op te los,” het Tony Ehrenreich, Wes-Kaapse Cosatu-sekretaris, aan joernaliste gesê.
Ehrenreich glo die ooreenkoms is ‘n positiewe stap in die onderhandelings.
Boere in Clanwilliam het ingestem op ‘n loon van R105 per dag en dat werkers wat aan die staking deelgeneem het, nie geviktimiseer sal word nie.
Dié ooreenkoms is deur die meeste van die plaaswerkers aanvaar.
Ehrenreich het gesê die ooreenkoms kan dien as ‘n model vir die res van die provinsie indien AgriSA Woensdag daartoe instem.
Plaaswerkers in die Wes-Kaap het verlede jaar begin staak en eis dat hul daaglikse loon van R69 tot R150 verhoog word en dat ‘n koherente hervormingsprogram geïmplementeer word.
Die staking is in Desember afgelas, maar is verlede Woensdag hervat.
Minstens 167 mense is sedertdien in hegtenis geneem.
