Volgens die polisiewoordvoerder, lt. Olebogeng Tawana, is die saak teen kapt. Anna Phorotlho (42) tot 21 Januarie uitgestel vir ‘n formele borgaansoek.
Sy sal intussen in aanhouding bly.
Phorotlho is in hegtenis geneem na verskeie rooftogte verlede jaar by winkels wat deur buitelanders besit word.
Sy was glo deur die rowers geïdentifiseer as die een wat hulle na die winkels geneem het en sy het hulle glo ook van vuurwapens voorsien vir ‘n rooftog op 3 Januarie 2012.
Vier vermeende rowers is in daardie tyd deur inwoners gevang en aangerand ná ‘n rooftog by ‘n winkel in Khankhudung.
Een van die mans het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Die polisie het beslag gelê op ‘n vuurwapen wat aan die staat behoort, lugtyd en ‘n onbekende hoeveelheid kontant van die rowers.
Phorotlho is Maandag by haar kantoor by die polisiestasie in hegtenis geneem.
