Duisende plaaswerkers het die polisie getart, en met klippe bestook.
Die plaaswerkersvakbond Bawusa beweer nege mense is deur rubberkoeëls beseer sedert die staking Woensdag hervat is.
“Pat Marran, voorsitter van die ANC in die Boland, is na ‘n hospitaal geneem ná hy deur ‘n private sekuriteitswag geskiet is,” het Nosi Pieterse, Bawusa se sekretaris-generaal, gesê.
Pieterse het gesê ongeveer 6 000 werkers in De Doorns neem tans aan die staking deel. Betogings vind ook in Grabouw en Wolseley plaas.
Die N1 by De Doorns was teen Donderdag steeds vir verkeer gesluit.
Volgens lt.kol. Andre Traut is 44 mense Woensdag in hegtenis geneem.
Die staking wat verlede jaar begin het, is eers afgelas, maar is Woensdag hervat.
Geweld het Woensdag ook in De Doorns uitgebreek toe stakers ‘n motor van ‘n koerantgroep aan die brand gesteek, ‘n padstal geplunder en die N1 met voorwerpe versper het.
Sommige boere het intussen ingestem tot salarisonderhandelings met vakbonde, ná gewelddadige betogings in dele van die Wes-Kaap.
Cosatu se Wes-Kaapse sekretaris, Tony Ehrenreich sê dié samesprekings is onafhanklik van dié met Agri-SA.
Die voorsitter van die “Cape Orchards”-groep, Gerhard de Kock sê hy het 28 boere uitgenooi na ‘n vergadering wat vandag sal plaasvind.
De Kock verteenwoordig 12 plase in die Hexriviervallei by De Doorns, wat die kern was van die gewelddadige skermutselings tussen die polisie en stakende seisoenswerkers.
Die polisie moes ‘n waterkanon en rubberkoeëls en skokgranate gebruik in ‘n poging om honderde stakers uiteen te jaag.
‘n Ekonoom van Pan African Capital, Iraj Abedian sê intussen toegewings sal aan albei kante gemaak moet word. Hy sê hoewel dit waar is dat werkers nie op die huidige salarisvlakke kan leef nie, sal boere bankrot raak as die salarisse te vinnig en te dramaties verhoog moet word.
Hy sê dit is nie ‘n politieke kwessie nie, maar ‘n tegniese landboukwessie waarvoor daar sowel ‘n korttermyn- as langtermynoplossing gevind moet word.
Die internasionale graderingsagentskap Fitch het Suid-Afrika se soewereine skuld, skuld wat in ‘n buitelandse geldeenheid aangegaan word, afgegradeer tot trippel-B.
Die agentskap sê egter die voortuitsigte is bestendig. Die Agentskap sê ekonomiese groei en vooruitsigte het verswak, wat ‘n uitwerking het op staatsfinansies wat deur politieke en maatskaplike spanning vererger word. Die rand het na die aankondiging tot R8.64 teen die Amerikaanse dollar verswak.
Die agentskappe Moody’s en Standard en Poor het onlangs gesê onsekerhede hang soos ‘n donker wolk oor die land se ekonomiese en groei-vooruitsigte. Volgens Moody’s is maatskaplike, politieke en ekonomiese probleme nou groter as voor die wêreldwye ekonomiese resessie van 2009.
