Die ANC se nuutverkose topleierskap begin vandag met ‘n toer deur Kwa Zulu-Natal, voor die president van die party, Jacob Zuma, Saterdag die party se 8 Januarie verklaringstoespraak sal lewer.
Dit sal die eerste keer wees dat die ANC se adjunk-president, Cyril Ramaphosa en die party se nuwe tesourier-generaal, Zweli Mkhize in hul nuwe hoedanigheid deel van ‘n ANC byeenkoms is.
Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe het vroeër bevestig dat die toekoms van die ANC Jeugliga die week op ‘n hoëvlak bespreek sal word. Die party se hoogste besluitnemingsliggaam, die nasionale uitvoerende komitee, vergader Vrydag.
Saterdag word ‘n massasaamtrek gehou om die 101ste bestaansjaar van die ANC te herdenk.
