Waarskynlik die armste land in Afrika, die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) is op die rand om oorgeneem te word deur rebelle. Die land grens aan Suid-Soedan en die DRK, waar groter konflikte ook dreig.
Suid-Afrika, sowel as die AU, het die president belowe dat hulle die hoofstad, Bangui uit die hande van die naderende afvalliges sal hou. President François Bozizé oorweeg tans ‘n oorgangsregering, ‘n groepering wat rebelle sal insluit om nasionale eenheid te skep in afwagting op ‘n verkiesing. Die rebelle eis egter sy bedanking as ‘n voorvereiste vir ‘n ooreenkoms. Die Afrika-Unie staan ‘n kompromie voor om Bozizé die nodige ruimte te probeer bied.
Min mense buite Afrika gee natuurlik ‘n flenter om oor wat daar gebeur, behalwe dalk Frankryk, wat ook die rebelle veroordeel het en steun aan die president belowe het. Tsjad, ‘n land onder Franse invloed, beskerm tans die president.
Hy word tewens letterlik aan die lewe gehou deur sy persoonlike lyfwagte, almal afkomstig uit Tsjad.
Die land. soos die meeste op die vasteland, is reeds eindeloos geteister deur staatsgrepe en opstande sedert onafhanklikheid van Frankryk in 1960. Die rebelle, ‘n hutspot van faksies, bekend as Seleka (“die alliansie” in ‘n plaaslike taal, Sango), sê mnr Bozizé oortree die bepalings van vredesooreenkoms wat in 2007 en 2008 onderhandel is, waardeur hulle deelneem in die regering en hul kragte in die nasionale weermag saamsnoer.
Benewens Suid-Afrika se 400 soldate en die AU se steun, het Gaboen en Kameroen ook ekstra troepe aangebied, miskien te laat om hom te red.
Frankryk het ‘n 500-tal soldate in ‘n basis naby Bangui, en 1000 of so Franse burgers in die land. Maar dit is duidelik dat president François Hollande onwillig is om verder betrokke te raak. Die krisis in Mali, aan die westelike kant van die Sahara, waar ‘n Al Kaida-groep die helfte van die land beset, is veel erger en Hollande is senuweeagtig genoeg oor die verwikkelinge daar wat Frankryk se Arabiese bure kan versteur.
Ten spyte van ‘n oorvloed hout, goud, uraan en diamante, bly dit een van die onaangenaamste plekke op aarde. Van 221 van die wêreld se groot stede, het Mercer, ‘n Amerikaanse konsultant, Bangui as nommer 220 ingedeel, net ‘n haarbreedte voor van Bagdad.
