Beeld berig dat die Kalkfonteindam-natuurreservaat naby Fauresmith in die Vrystaat sy hekke tydelik gesluit het nadat die lewensgevaarlike Kongokoors-virus by ‘n werknemer gediagnoseer is.
Johannes Ngwato (46), ‘n reservaat-assistent, is in die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein opgeneem..
Die dagblad het berig dat dagbesoekers wat op Nuwejaarsdag by die dam kom uitspan het, stil-stil uitgelaat is, waarna die hekke vir die publiek gesluit is.
Ngwato het glo ‘n bontpootbosluis aan sy klere gekry, en het kort ná die ontdekking baie siek begin voel.
Dokters in ‘n plaaslike hospitaal het die virus by hom gediagnoseer en hy is per ambulans na Bloemfontein geneem.
