Honderde fietsryers, familielede en vriende het die naweek aan die KwaZulu-Natalse suidkus hulde gebring aan die sportheld wat verlede week doodgery is. Die jaer het verlede jaar vyfde in die eindronde van die bergfietsry-item by die Olimpiese Spele geëindig.
Beeld berig sy vrou, Cherise, het die emosionele gedenkrit van St. Michael’s-on-Sea tot by die ongelukstoneel gelei.
Die Sunday Times het onthul dat sy twee uur voor die noodlottige ongeluk met haar man per foon gesels het. “Hy het my by die halfeindmerk in Port Edward gebel net om te hoor hoe dit gaan…” het sy vrou gesê.
Stander se laaste woorde aan sy vrou was ‘n liefdesbetuiging. Hy is kort daarna in Shelly Beach, naby die fietsrywinkel wat hy saam met sy pa, Charles, bedryf het, deur ‘n minibustaxi getref. Sy pa het die botsing hoor plaasvind.
Nog ‘n fietsongeluk in KZN, het die naweek byna nog ‘n slagoffer geëis. ‘n Jong vrou is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal nadat ‘n voertuig haar in Richardsbaai, KwaZulu-Natal, raakgery het, het paramedici gesê.
Chris Botha, ‘n woordvoerder vir Netcare 911, het in ‘n mediaverklaring gesê die 22-jarige vrou het saam met ander fietsryers gery toe die ongeluk plaasgevind het.
